Uitstorting van die Heilige Gees op Pinkster
Op Pinkstersondag 2000 jaar gelede is die Heilige Gees op die kerk uitgestort. Baie keer deur die eeue het die kerk egter stagneer en die werking van die Heilige Gees weerstaan. Dan het God, in Sy genade, weer Sy Gees opnuut op die kerk kom uitstort. Van hierdie herdoping sien ons byvoorbeeld in Handelinge 4: 29 - 31, 10: 44 - 47 en 11: 15.
Martyn Lloyd-Jones het gesê dat wanneer mens die boek Galasiërs en 1 Korinthiërs 12 - 14 met aandag lees, dit duidelik is dat daardie kerke 'n buitegewone werking van die Heilige Gees in hulle midde beleef het. Oor die eeue heen het dit ook herhaalde kere in plaaslike kerke, streke en nasies, en ook wêreldwyd gebeur.
Laat ons dan bid vir die buitengewone werking van die Heilige Gees binne-in die wêreldwye kerk. Sonder 'n nuwe en kragtige werking van die Gees sal die kerk kragteloos bly en nie daartoe in staat wees om sy werk te doen nie.
- Besonderhede
Lofprysing
Lofprysing is om God groot te maak, te verheerlik, aan Hom te sê dat jy weet tot Wie jy gebid het en dat jy Hom vertrou met jou gebede.
Maak jou amen aan die einde sterk en bevestig daarmee dat jy glo dat God jou gehoor het en sal verhoor. Amen beteken: dit is waar en seker, dit sal so wees.
Dit is 'n finale geestelike daad om God op die troon van jou lewe te plaas.
Dit is waar jy bely: Aan U behoort die koninkryk en die mag en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.
Dick Eastman, in sy boek "The hour that changes the world", doen aan die hand dat 'n mens 'n uur in 12 periodes van 5 minute elk indeel. Na elke 5 minute gaan jy oor na 'n ander vorm van gebed. Bogenoemde volg Dick Eastman se indeling.
- Besonderhede
Luister
Luister is 'n periode waarin jy opdragte van God ontvang, waar jy Hom vra om vir jou dinge te wys wat Hy wil hê dat jy sal raaksien en aan aandag moet gee.
Dit is om na die innerlike stem van die Heilige Gees te luister.
Waar jy vra: Wat is daar wat U wil hê ek moet doen? Wat is U wil vir vandag?
Om leiding uit die Woord te soek.
Om God doelbewus te vra om Sy wil en strategieë of planne aan jou bekend te maak.
In wag op die Here gaan dit om God lief te hê. Tydens oordenking wil ons meer van God leer. In die periode van luister wil ons hoor wat God vir ons wil sê. In hierdie periode vra ek: "Here, wat verwag U van my, wat is U wil vir my?"
Jy kan ook vir die Here spesifieke vrae vra, miskien moeilike vrae waarop jy nie antwoorde het nie. Wees sensitief vir die Heilige Gees.
Wees versigtig om sommer vinnig te sê: "Die Here het dit en dat vir my gesê."
Dick Eastman, in sy boek "The hour that changes the world", doen aan die hand dat 'n mens 'n uur in 12 periodes van 5 minute elk indeel. Na elke 5 minute gaan jy oor na 'n ander vorm van gebed. Bogenoemde volg Dick Eastman se indeling.
- Besonderhede