'n Buitengewone Geleentheid
In Rietfontein-Suid gemeente is die eerste SONDAG van November 'n buitengewone geleentheid. Dit is 'n dag van doelbewuste betoning van dankbaarheid teenoor die Here vir al Sy goedheid, genade en troue sorg jeens ons.
Sondag, tydens die oggenddiens kan u tasbaar u dankbaarheid kom bewys teenoor die Here deur 'n spesiale dankoffer, wat addisioneel tot u maandelikse dankoffer is, te gee.
Aangesien die dankoffers die gemeente se primêre bron van inkomste is wil die Finansies Bediening dringende beroep op u as lidmaat doen om biddend te besin oor die bedrag wat u as 10de MAAND DANKOFFER gee.
Ons besef dat in enige huishouding of ander organisasie word daar geweldige druk op verhoogde uitgawes geplaas, maar so ook op die uitgawes van die gemeente.
Die werk van die Here kan slegs gedoen word indien die fondse daarvoor beskikbaar is.
Dankoffersondagkoeverte is by die MI Toonbank beskikbaar.
- Besonderhede
Watter paadjie volg jy?
Tydens 'n onlangse vakansie in Europa, het ek die meegaande foto geneem op 'n wandelroete teen die hange van die Alpe naby Innsbruck, Oostenryk.
Dit het my laat dink aan die smal weg en die breë weg. As jy jou geheue wil verfris lees weer Mattheus 7: 13 - 14.
Soos gesien kan word op die foto is die breë paadjie (regs) die een wat die maklikste lyk om te volg, meer verlig en meer gelyk. Lekker! en nog afdraend daarby ook!
Die smaller paadjie (links) lyk na 'n moeiliker, donkerder en onseker roete om te volg.
Dit was net na 8 uur die aand (ja, dis dan nog lig daar in hul somer), en ek en my vrou het besluit om maar eerder uit die onvreemde te bly en die maklike paadjie te volg. Dit het ook gelyk of die smal paadjie nog ekstra opdraendes het!
Is ons almal se lewens nie ook maar soos die twee paadjies op die foto nie? Elke dag moet ons kies tussen 'n smal, moeilike paadjie of 'n breë maklike paadjie. Op watter paadjie was jy vandag?
- Besonderhede
Die kerk, 'n huis van gebed
Die Here sê in Jesaja 56: 7, "... Ek sal aan hulle vreugde gee in my huis van gebed, hulle brandoffers, hulle offers op my altaar sal vir My aanneemlik wees, want my tempel sal uitgeroep word tot 'n huis van gebed vir al die volke ..."
Dit word in die Nuwe Testament herhaal. Wat beteken dit dat 'n kerk 'n huis van gebed sal wees? Beteken dit dat daar gebedsbyeenkomste sal wees? Of beteken dit 'n leefstyl van gebed en verootmoediging, wat jou totale afhanklikheid van die Here bevestig.
Is jou lewe 'n huis van gebed?
- Besonderhede