Skrywe van die Algemene Sekretaris - Appèlproses
Beste kollegas,
Soos ooreengekom skryf ek direk aan jou, van tyd tot tyd, oor sake op die kerklike terrein. My skrywe het altyd ten doel om jou so goed as moontlik in die prentjie te bring oor ontwikkelinge rondom dit wat op die agenda van die ASM se sakelys is. Andersins kommunikeer ek belangrike inligting is wat jy spoedeisend moet van kennis neem. Hierdie skrywe, langer as gewoonlik, wil aan jou belangrike inligting en agtergrond, gee oor 'n berig wat heel moontlik môre, die 13de Augustus, in die Rapport sal verskyn.
Die Moderamen het laat gistermidag 'n prokureursbrief ontvang wat namens lidmate op regsgronde versoek dat daar voortgegaan moet word met die uitvoering van die besluite van die Algemene Sinode oor selfdegeslag verbintenisse. Prop LLB Gaum, Prof HL Bosman, Dr M Coetzee, Dr FM Gaum, Dr C Jones, Prop JJ Kotze, Dr N Marais, PH Oberholzer, HW Pienaar, L Vermeulen, en Adv L Wessels is oortuig dat die appèlproses teen Algemene Sinode besluite nie regsgeldig is nie. Die reëls van Reglement 19 van die Kerkorde is volgens die briefskrywers strydig met die Kerkorde waaraan dit ondergeskik moet wees. In 'n tweede versoek betoog hulle dat die opskorting van die uitvoering van die Algemene Sinode se besluite ook ongeldig is en nie in ooreenstemming met soortgelyke regspraktyk is nie. Ter stawing van beide betoë het hulle 'n regsmening van Adv Wim Trengrove bekom en aangeheg aan hulle skrywe.
Die besluite van die NG Kerk se Algemene Sinode van Oktober 2015 oor selfdegeslagverhoudings is gevolg deur verskeie appèlle daarteen. Sommige punte in die appèlle handel met tegniese kwessies en ander met die beginsel van die saak. Dit was die eerste keer dat lidmate teen 'n besluit van die Algemene Sinode appèl aangeteken het. Hoewel die Kerkorde slegs voorsiening maak vir appèlle na 'n meerdere vergadering, d.w.s van bv. 'n ring na 'n sinode, is daar in die onlangse verlede 'n punt in Reglement 19 van die Algemene Sinodale reglemente toegevoeg wat nou voorsiening maak vir appèlle teen besluite van die Algemene Sinode.
Van die begin af was daar vrae of die reglement nie buite orde is nie, aangesien die Kerkorde self nie melding maak van die moontlikheid van appèlle teen besluite van die Algemene Sinode nie. Daar is ook vertoë gerig en betoog teen die opskorting van die uitvoering van die besluite van die Algemene Sinode vanweë die appèlle. Die Moderamen en Algemene Taakspan Regte (ATR) het onder meer 'n brief ontvang van 65 lidmate wat beswaar gemaak het teen die besluit om die uitvoering van die Algemene Sinode se besluite tydelik op te skort hangende die appèlle.
Reglement 19 maak voorsiening dat 'n volgende Algemene Sinode of 'n appèlliggaam wat deur die ATR aangewys moet word, die appèlle moet aanhoor. Die ATR het besluit om sodanige appèlligaam aan te wys, maar dat dit moet bestaan uit persone wat nie by die vorige Algemene Sinode teenwoordig was nie. Die ATR moes hiervoor eers met sekundi aangevul word. Dit moes deur die moderamen gedoen word. Die appèlliggaam kan gevolglik nou eers saamgeroep word. Reglement 19 bepaal egter dat die appèlle binne 21 dae na die ontvangs daarvan aangehoor moet word of deur 'n volgende Algemene Sinode.
Ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen, het na die ontvangs van die brief gesê dat dit nie sleg is dat daar regsekerheid oor hierdie aangeleentheid verkry word nie. Terwyl daar nie regsekerheid is nie, sal daar altyd agterdog bly bestaan oor die regsgeldigheid van die appèlproses en die opskorting van die uitvoering van besluite waarteen daar geappelleer word. Sy aanvoeling is dat dit wenslik is dat 'n hoër hof uitsluitsel gee oor beide aangeleenthede. Sou die appèlproses op regsgronde gestuit word, bly die moontlikheid steeds bestaan om in terme van die Kerkorde die volgende Algemene Sinode te nader met 'n beswaarskrif of 'n gravamen.
Hy het ook gesê "hoe vinniger ons met die regsproses kan vorder, hoe beter vir almal. Ons is ongelukkig in onbekende vaarwaters en die advies van regslui en -prosesse kan vir ons selfs verder help met die oog op kerklike prosesse. Intussen word daar in die moderamen gedink aan moontlike maniere waarop daar groter insluiting kan kom van kerkvergaderings by besluitnemingsprosesse wat met kontensieuse sake handel. Die moderamen is ook besig met die ontwikkeling van 'n missionale strategie vir die Algemene Sinode se werksaamhede. Laat ons almal saam in hierdie dae bid dat die Hoof van die Kerk, ons op ongekende maniere sal lei tot geloof en diensbaarheid. Die oes is immers groot."
Saam in Sy diens.
Gustav Claassen
Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk
- Besonderhede
Die Afrikaanse Vertaling
Die eerste volledige bybelboek in Afrikaans was die Evangelie volgens Markus soos deur C.P. Hoogenhout vertaal.
Hierdie vertaling is nooit gepubliseer nie, maar die manuskrip is in die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika in Kaapstad beskikbaar.
Die eerste Afrikaanse vertaling (bekend as die "ou" vertaling) van die Bybel het in 1933 verskyn.
Die vertaalwerk is deur prof. J.D. du Toit (Totius), prof. E.E. van Rooyen, prof. J.D. Kestell, dr. S.P.E Boshoff, dr. H.C.M. Fourie en prof B.B. Keet behartig (sien foto).
'n Hersiene uitgawe daarvan het in 1953 verskyn sodat die "ou vertaling" ook bekendstaan as die 1933/53-vertaling.
Die nuwe vertaling van die Bybel het in 1983 verskyn en word deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gepubliseer.
Die eindredaksie van hierdie vertaling was prof. E.P. Groenewald, J.P. Oberholzer, A.H. Van Zyl, P. A. Verhoef, J.L. Helberg en W. Kempen.
Die eerste Afrikaanse Bybel vir Dowes is in 2008 deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gepubliseer.
Bron: Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika
- Besonderhede
Die Bybel in Duits
"Ek brand eerder in 'n rooiwarm vuur as om hier te sit en verrot".
Hierdie opmerking van Luther vertel iets van sy gemoedstoestand as banneling in die kasteel in Wartburg. Dit het egter nie lank geduur voordat Luther sy ballingskap as 'n geleentheid begin sien het nie. Alhoewel hy longontsteking opgedoen het en aan hardlywigheid gely het, was hy veilig en het hy tyd gehad om te dink en te studeer. Sy pen het die instrument geword waarmee hy die Reformasie vanaf sy "Patmos" lewend gehou en bevorder het.
Een van die belangrikste bydraes wat Luther in hierdie tyd gemaak het, was die vertaling van die Bybel in Duits. Alhoewel daar reeds verskeie Duitse vertalings van die Bybel bestaan het, was dit volgens Luther ontoereikend omdat dit blote vertalings van die Vulgaat was. Dit was boonop baie duur en buite die bereik van gewone gelowiges. Hy het aan die werk gespring en teen September 1522, slegs drie maande nadat hy begin werk het, was sy Duitse vertaling van die Nuwe Testament by die drukpers. Albert Hyma, een van Luther se grootste kritici, skryf hieroor: "Selfs sy debat met Eck te Leipzig was nie so 'n aardskuddende gebeurtenis soos sy vertaling van die Bybel nie."
Die vertaling was 'n kitssukses. Melchior Lotter het dit in Wittenberg op drie verskillende drukperse gedruk. In drie maande is bykans 5 000 kopieë verkoop. Voordat die volledige Bybel in 1534 gedruk is, het 87 uitgawes verskyn en is meer as 200 000 kopieë gedruk.
Die vertaling van die Bybel in Duits was spreekwoordelik die nuwe wynsak vir die nuwe wyn waarmee Luther as teoloog na vore gekom het. Dit was die bron van sy teologie en die gesag waarop hy hom deurentyd beroep het. Regverdigmaking deur geloof, die Skrif alleen, geloof alleen, genade alleen en die priesterskap van alle gelowiges was die wyn wat uit hierdie nuwe sak gevloei het.
Luther se bydrae tot die reformasie het egter ook verder as bloot sy teologie gestrek. Die belangrikheid van prediking en musiek in die erediens, die ononderhandelbare belang van onderrig en lering en sy verstaan van die kerk as liggaam van Christus het boustene geword in 'n nuwe geloofstradisie van kerkwees wat soos 'n veldbrand deur die hele Europa versprei het.
Na sy dood in 1546 was geleerdes dit eens: Luther het die historiese kern van die Christendom herontdek!
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede