Johannes Calvyn
Dit is die woorde van Johannes Calvyn, een van die bekendste kerkhervormers. Sy bydrae was enorm en sy teologie het 'n groot invloed uitgeoefen op die NG Kerk.
Calvyn is op 10 Julie 1509 in Noyon, Frankryk gebore. Sy ouers het beplan dat hy 'n loopbaan in die kerk sou volg, maar Calvyn wou regte studeer.
Hy is op twaalf na Parys waar hy aan die Collège de la Marche begin studeer het. Hy was 'n ywerige student en daar word vertel hoe hy alles wat hy daagliks nuut geleer het, saans voordat hy gaan slaap het herhaal het, net om in die oggend die vorige dag se lesings weer te herhaal.
Calvyn het sy meestersgraad in 1526 in Parys behaal en daarna sy regstudie aan die universiteit in Orlèans voortgesit. Twee jaar later is hy na Bourges om onder die leiding van 'n beroemde Italianer, Andreas Alciati, verder te studeer.
Dit is hier waar Calvyn in aanraking gekom het met 'n Duitse protestant, Melchior Wolmar. Wolmar het hom aan Grieks en aan die Griekse teks van die Nuwe Testament bekendgestel - iets waarvoor in Calvyn se woorde, "ek hom nie genoeg kon bedank nie".
Hoewel ons nie weet waar en wanneer dit gebeur het nie, beskryf Calvyn sy bekering as 'n skielike gebeurtenis "soos wat met Paulus gebeur het". In sy eie woorde: "God het my hart onderwerp en nederig gemaak."
Dit het daartoe gelei dat Calvyn met die Katolieke Kerk gebreek het. Hy moes Parys verlaat en het in Basel gaan bly waar hy begin het om sy teologie te formuleer. In 1536 is die eerste uitgawe van Die Institusie van die Christelike geloof gepubliseer. Dit was 'n kort duidelike verdediging van die teologie van die Reformasie.
In 1537 is Calvyn op versoek van Guillaume Farel na Geneve om die Reformasie daar te help vestig. Daar het hy begin om 'n sigbaarder "Stad van God" in Europa te bou.
Sy lewe was egter nie net maanskyn en rose nie. Tydens sy laaste siekbed in 1564 het hy opgemerk: "Ek het hier 'n merkwaardige worstelstryd gevoer; snags is ek spottend deur 50 of 60 geweerskote voor my deur begroet. Jy kan dink hoe dit 'n arme geleerde soos ek sou verskrik."
Ten spyte van hierdie gebeure, het Calvyn se teologie die gang van die geskiedenis van die kerk onherroeplik verander.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
Ulrich Zwingli
Hierdie woorde van Ulrich Zwingli tydens 'n preek op 30 Maart 1522 is tiperend van die hervormer van Switserland.
Zwingli het hom openlik uitgespreek teen teologiese wanpraktyke van die Katolieke Kerk. Een daar van was die gebruik om te vas tydens lydenstyd.
Nadat een van sy volgelinge, die drukker Christopher Froschauer besluit het dat sy uitgeputte werkers wors in plaas van die gebruiklike vis tydens lydenstyd kon eet, is al die worseters deur die stadsvaders van Zürich gearresteer en in die tronk gegooi.
Zwingli het sonder om te skroom gereageer deur in die preek te beklemtoon dat die mens vry is om te eet wat jy wil wanneer jy wil omdat Christus die mens kom vrymaak het!
Zwingli is op 1 Januarie 1484, sewe weke na die geboorte van Luther, in die dorpie Wildhaus gebore. Nadat hy sy skoolloopbaan in Latyn voltooi het, en aanvanklike studie aan die Universiteit van Wene, het hy sy studie in 1502 aan die Universiteit van Basel voortgesit.
Dit is daar waar hy tydens die lesings van Thomas Wyttenbach oor die Romeineboek besef het dat vergifnis van sonde alleen in die dood van Jesus Christus te vinde was.
Luther en Zwingli het net een keer persoonlik in 1529 in Marburg ontmoet. Die vonke het gou gespat toe die twee hervormers mekaar se teologie verwerp het en radikaal oor die nagmaal verskil het.
Die rede daarvoor is waarskynlik die feit dat Luther 'n hervormer geword het nadat 'n lang geestelike stryd hom na 'n klooster gedwing het. Zwingli, aan die ander kant, was 'n humanis met 'n meer rasionalistiese benadering tot godsdiens. Luther was 'n volgeling van Augustinus, Zwingli 'n volgeling van Erasmus.
In 'n stadium het die debat persoonlik geraak en het Zwingli Luther toegesnou: "Hierdie sal jou rug breek!" waarop Luther gereageer het met: "Moenie te gou spog nie. Hier word nie nekke gebreek nie. Jy is nou in Duitsland, nie in Switzerland nie."
Hoewel Zwingli later verskoning gevra het, was die skade gedoen en het die twee se paaie uiteen gegaan.
Zwingli het die reformasie in Switserland aangevoer, maar word ook onthou vir sy bitter gevegte met die anabaptiste (wederdopers). Die marteldood van Felix Manz wat op 5 Januarie 1527 verdrink is, het 'n donker skadu oor die lewe en werk van Zwingli gegooi.
Zwingli self het in die tweede Kappeloorlog in 1532 gesterf toe hy van sy perd geval het en met 'n swaard deurboor is. Dit het 'n einde gebring aan die reformasie in Switserland.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
Philippus Melanchton
Op ons historiese reis na die begin van die Reformasie het ons heelwat tyd saam met Martin Luther deurgebring. Ons reis neem ons nou verder om ander belangrike figure te ontmoet. Philippus Melanchton kom eerste aan die beurt.
Ná Luther se dood in 1546 het Melanchton die leierskap van die Reformasie in Duitsland oorgeneem. Hoewel minder bekend as Luther, Zwingli en Calvyn het Melanchton 'n onmisbare bydrae tot die voortgang van die Reformasie gemaak. Sy bekende woorde: "Ons sal alles beoordeel volgens die toetssteen van die evangelie en die vuur van Paulus", toon duidelik aan waar hy homself teologies bevind het.
Melanchton, wat aanvanklik in Tübingen Grieks doseer het, het Luther in 1518 in Wittenberg ontmoet. Die ontmoeting het van Melanchton die humanis, Melanchton die hervormer gemaak.
Tydens Luther se ballingskap in die kasteel in Wartburg, was dit Melanchton wat hom verteenwoordig en verdedig het. Volgens sommige historici het Melanchton se "gawe van logiese denke en wye kennis van die geskiedenis" hom selfs 'n groter rolspeler as Luther in die voortgang van die Reformasie gemaak.
In 1521 het Loci Communes (Common places) uit die pen van Melanchton verskyn. Dit was die eerste boek wat die beginsels van die Reformasie duidelik uiteengesit het.
Melanchton se belangrikste bydrae was en is egter steeds die Belydenis van Augsburg wat in 1530 gepubliseer is. Te midde van politieke chaos in Duitsland waar hervormingsgesindes en diegene wat pro-Katoliek was teenoor mekaar stelling ingeneem het, het die hervormers hulle geloofsverklaring by die Ryksdag van Augsburg in 1530 ingedien.
Dit was 'n versoenende nie-konfronterende uiteensetting van die leer van die Reformasie sonder dat die hart van die Reformasie prysgegee is.
Die belydenis het dit duidelik gestel dat "die nuwe lewe in Christus goeie werke tot gevolg het maar dat goeie werke van gelowiges geen bydrae tot hulle verlossing maak nie".
Die bekende woorde van Luther dat "goeie dade nie van jou 'n goeie mens maak nie, maar dat goeie mense goeie dade doen", is duidelik hierin terug te vind.
Hoewel die Belydenis van Augsburg die eenheid van Luther se volgelinge met Rome wou beklemtoon, het dit ook die fundamentele teologiese verskille tussen Rome en die Hervormers uitgewys.
Wat in 1517 as 'n protes teen die aflaatstelsel begin het, het die fondament geword vir 'n nuwe Evangeliese kerk in Duitsland. Dit sou egter ook lei tot 'n bloedige oorlog tussen die Hervormers en die Katolieke wat kort na Luther se dood in 1546 uitgebreek het.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede