Sê Nou Net ...
Dit is die jaar 2017 – 500 jaar sedert Martin Luther en die Reformasie onder sy leiding die geskiedenis van die kerk onherroeplik verander het. Beteken dit nog iets vir ons in 2017? Indien wel, wat?
Anders geformuleer: Sê nou net Martin Luther sou in Januarie 2017 hier aan die suidpunt van Afrika met ons kon praat – dalk selfs in die Groote Kerk kon preek – wat sou hy sê?
Pass skryf tereg dat een van die hoofdoelstellings van die Reformasie was om die leer van die kerk en die lewe van lidmate opnuut in lyn met God se Woord te bring. Luther, Zwingli, Bucer en Calvyn was volgens hom in wese agente vir 'n Back to the Bible-beweging. Vandaar sola Scriptura – die Woord alleen!
Dalk sou dit een van die belangrikste punte van Luther se boodskap aan 'n kerk in die lande hier aan die suidpunt van Afrika wees. Sê nou net hy sou aan lidmate wat kreun onder die swaar las van geweld, korrupsie, rassisme en ander vorme van misdaad en onreg, sê: "Fokus opnuut op die Bybel! Lees dit met nuwe ywer, bestudeer dit en gaan leef dit ondanks julle omstandighede!"
Dalk sou ons dan ophou wroeg en beledig en vloek en slegsê soos almal rondom ons, maar opnuut ontdek dat ons uit genade gered is omdat ons glo. Dat ons daarom deel is van 'n geloofsgemeenskap wat 'n spesifieke roeping in hierdie wêreld het. Ons sou onthou dat God se norme en waardes en liefde ons denke en ons dade moet bepaal en ons sou opnuut begin leef as mense wat daarna streef om iets van God se koninkryk in hierdie stukkende lande sigbaar te laat word.
Sê nou net Luther sou ons verder daaraan herinner dat die geloofsgemeenskap waarvaan ons deel is, nie maar net nog 'n groep of 'n klub is waaraan ons behoort nie, maar dat dit die Kerk van Jesus Christus is wat oorwinnend deur die geskiedenis op reis is.
Dan sou ons dalk ons kop kon optel om ongeag ons omstandighede as oorwinnaars in Christus in hierdie lande te begin leef. Dan sou ons kon help om ’n gemeenskap te transformeer met nuwe waardes. Ons sou onder meer armoede help bekamp, ons sou betrokke raak by die onderwyskrisis, ons sou pleit vir reg en geregtigheid, ons sou Jesus Christus as die enigste Verlosser opnuut met ywer en oorgawe verkondig – ons sou sonder moeite missionaal kerk kon wees.
Sê nou net dit sou gebeur … Dan kry die Reformasie van 500 jaar gelede nuwe sin en betekenis.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
Keer Terug na ons Wortels
Oor 'n bietjie minder as 'n maand breek 2017 aan. Gereformeerdes oor die wêreld heen gaan terugkyk na die gebeure van 1517 en saam feesvier. Op ons reis terug na die tyd van die Reformasie het ons die afgelope jaar by verskeie belangrike rolspelers aangedoen en nagedink oor verskillende belangrike gebeure.
Die vraag bly egter: Wat beteken dit alles vir ons wat 500 jaar later aan die suidpunt van Afrika leef? Dat daar geen simplistiese antwoord op hierdie vraag is nie, is voor die hand liggend. Het ons egter geen antwoord op die vraag nie, is 2017 se viering totaal waardeloos en moet ons dit liewer los.
Miskien help die woorde van die Engelse hervormer, William Tyndale, ons in die regte rigting. Hy het volgens oorlewering op 'n keer aan 'n geestelike gesê: "As God my spaar, sal ek voordat baie jare verloop het, 'n seun agter 'n ploeg meer oor die Skrif leer as wat u weet."
Daarin lê die waarde van die komende feesjaar - dat ons eerstens moet terugkeer na ons wortels - na die Woord. Die Hervormers het juis beklemtoon dat God deur die Skrif met hulle handel. Dit is wat hulle bedoel het met die Woord van God: die lewende Woord wat in hul eie situasie met hulle praat. As die Bybel regtig die boek is wat die meeste verkoop word, maar wat die minste gelees word, moet ons in 2017 die Bybel weer herontdek - lees en leef.
Kry die kerk bogenoemde reg, sal dit ons tweedens help om opnuut na te dink oor wie ons eintlik is en wat ons roeping hier in suidelike Afrika is. Luther het beklemtoon dat die kerk in via is - op pad deur die wêreld as die ecclesia militans - die voortstrydende kerk wat voortdurend moet veg om die koninkryk van God te laat deurbreek. Dit is niks anders as missionale kerkwees nie - die uitdaging wat die NGK met groot oorgawe aanvaar het!
Alles sal egter net sin maak as ons saam met Luther kan sing:
'n Vaste burg is onse God,
ons skuil in Hom, die sterke.
Hy is 'n vesting in die nood -
vir ewig staan sy werke.
Al kom die Bose aan
in sy oorwinnaarswaan,
ons weet by al sy lis,
sy lot is reeds beslis - God self stel aan hom perke.
God hou sy woord altyd in stand,
geen mag kan dit laat wyk nie.
Hy hou ons heilig in sy hand,
sy trou sal nooit beswyk nie.
Al eis die Bose dan
hier alles wat hy kan,
dit bring hom geen gewin
ons gaan die hemel in,
hy roof ons nooit Gods ryk nie.
(Martin Luther, 1528)
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
Pastoor en Prediker
Die prentjie wat dikwels van Calvyn geteken word, is dié van 'n geharde juris en teoloog vir wie die orde van die kerk en dogma alles was. Calvyn het egter ook 'n ander kant gehad - die van pastor en prediker. Dit laat sommige historici opmerk dat die hart van Calvyn se werk in Genève die beste sigbaar word in sy bediening vanaf die preekstoel.
Dit was veral na sy terugkeer na Genève in 1541 dat prediking een van sy belangrikste weeklikse aktiwiteite geword het. Vir hom was prediking die uitleg van die Skrif. Aanvanklik het hy twee keer op 'n Sondag en een keer op drie ander dae van die week gepreek. Later het hy twee keer op 'n Sondag en elke dag van die week in alternatiewe weke gepreek.
Sy gebruik was om op Sondae uit die Nuwe Testament en gedurende die week uit die Ou Testament te preek. Soms het hy ook op 'n Sondagmiddag tyd afgestaan aan die uitleg van die Psalms.
Calvyn het sonder notas gepreek en het veral twee belangrike temas van 'n Christen se lewe beklemtoon: die redding van mense deur die genade van God en gelowiges se roeping tot 'n lewe van dankbaarheid.
Deur sy pen het hy onder meer ook die geestelike mentor en pastor vir die Protestantse adel en baie van die leiers van die Reformasie in ander lande geword. Hoewel sy humeur en opvlieënde geaardheid uit van sy briewe duidelik word, dui die pastorale begeleiding daarin op 'n meer sagmoedige pastor.
Dat Calvyn veral aan die einde van sy lewe met sy gesondheid gesukkel het, is bekend. Hy vertel self van sy stryd met tuberkulose, jig, 'n swak maag en nierstene. Ten spyte van sy swak gesondheid, het hy onverpoosd gewerk.
Teen 1549 het hy reeds kommentare oor al die Pauliniese boeke van die Nuwe Testament geskryf en teen 1555 het hy kommentare oor al die ander boeke, uitsluitend Openbaring, voltooi. Te midde van verswakkende gesondheid het hy in 1558 finale wysigings aan die Latynse weergawe van sy groot passie, sy Institusie, aangebring.
Kort voor sy dood op 27 Mei 1564 skryf hy aan Farel: "Ek haal swaar asem en elke oomblik verwag ek dat dit dalk my laaste kan wees. Dit is genoeg dat ek leef en sterf vir Christus wie vir al sy volgelinge 'n wins in lewe en in sterwe is. Ek groet jou en al jou broers."
Johannes Calvyn is volgens sy wens in 'n ongemerkte graf begrawe.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede