Nikolai Levin, van die Akmola-streek in Kazakstan, is nog ʼn boete opgelê omdat hy weier om ʼn vorige boete te betaal vir die leiding van sy gemeente, het Forum 18 geleer. Hy is reeds, saam met baie van sy mede-Baptiste, op ʼn swartlys geplaas wat verhoed dat hy buite die land mag reis, en daar is ʼn interdik teen die huis waar sy kerk byeenkom.
Twee Protestante uit Atyrau is ook vervolg omdat hulle “die proses vir godsdienstige byeenkomte oortree het,” nadat hulle saam met ander lidmate tee gedrink het na ʼn Sondagdiens.
Onder Kazakstan se beperkende Geloofswet van 2011, mag burgers en buitelanders woonagtig in Kazakstan nie hul geloof met ander deel sonder toestemming van die staat af nie. Diegene wat hierdie wet oortree kan beboet word vir onwettige “sendingwerk” – en as hulle is buitelanders, kan hulle ook gedeporteer word.
Bid vir die Christene in Kazakstan. Die bogenoemde voorvalle dui op ʼn verslegtende situasie vir hulle.
Bron: Geopende Deure
Calvyn en die stad Genève het byna sinonieme met mekaar geword. Dit is daar waar Calvyn hom besig gehou het met 'n poging om 'n sigbaarder "Stad van God" in Europa te bou. In die proses was dit die plek waar Calvyn van sy belangrikste teologiese bydraes tot die Reformasie gemaak het, maar ook waar hy van sy donkerste oomblikke beleef het.
Nadat Calvyn in 1538 uit Genève moes vlug as gevolg van sy stryd met die Libertyne, het hy in 1540 'n dringende versoek van die stadsvaders ontvang om terug te keer. Teen sy eie wil, maar oortuig van die feit dat dit God is wat hom terugroep, het Calvyn op 4 September 1541 in Genève aangekom.
Die eerste saak waaraan Calvyn aandag gegee het, was 'n kerkorde. Die kerkorde wat Calvyn opgestel het, Ordonnances Ecclesiastiques, is op 20 November 1541 in die gemeente voorgelees en deur die kerkraad, die gemeente en die burgerlike owerheid aanvaar.
Die basiese vertrekpunt van Calvyn se kerkorde was die soewereiniteit van die kerk in geestelike sake.
Calvyn het vier ampte geïdentifiseer: ouderlinge, diakens, predikante en doktore. Elke gemeente moes 'n kerkraad hê wat verantwoordelik was om die gemeente volgens Bybelse riglyne te regeer en tug toe te pas.
Die kerkorde het dit ook duidelik gestel dat die burgerlike owerheid alles in sy vermoë moes doen om die kerk te ondersteun om haar roeping in die wêreld na te kom. In 1542 het die stadsraad van Genève die wette van die stad so verander dat dit in ooreenstemming was met Calvyn se kerkorde.
Alles was egter nie maanskyn en rose nie. Die jare 1543 tot 1553 was 'n tydperk van geweldige stryd in Genève. Een van die hoofrolspelers was die Spanjaard Michael Servetus.
Servetus het reeds in 1545 met Calvyn kontak gemaak en het gou bekend geword vir sy kritiek teen Calvyn se teologie. Nadat Calvyn 'n kopie van sy Institusie aan Servetus gestuur het, het Servetus dit, met kritiek in die kantlyne geskryf, teruggestuur.
Dit het Calvyn woedend aan Farel laat skryf dat as Servetus dit ooit sou waag om Genève te besoek, "hy hom nie sou toelaat om lewendig te vertrek nie." Hierdie woorde van Calvyn was nie 'n ydele dreigement nie. Nadat Servetus sy boek Christianismi Restitutio – Die herstel van die Christendom in 1553 gepubliseer het, het hy op pad na Italië in Genève aangedoen. Hy is gearresteer, is as ketter verhoor en het op 27 Oktober 1553 op die brandstapel gesterf.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
Beste lidmaat
Die burgerlike samelewing, met inbegrip van geloofsgemeenskappe soos die NG Kerk, het die sosiaal-etiese verantwoordelikheid om hulle nie net te weerhou van enige vorm van haatspraak, stereotipering van enige groep en geweld teen enige persoon nie, maar ook om dit met oortuiging teen te staan.
Die NG Kerk wil haar om hierdie rede sterk uitspreek teen geweld van watter aard ook al.
Dit gaan hier oor die evangelie wat op die spel is. Die kerk spreek haar nie net uit oor geweld in die volgende twee verklarings nie, maar versoek ook optrede en diepe nadenke van haar lidmate ten opsigte van die uitdagings waarmee ons gekonfronteer word.
Verklaring 1: Die NG Kerk het die afgelope paar dae met hartseer kennis geneem van talle gevalle waar die kwesbaarste mense in ons samelewing, vroue, kinders en migrante uit buurlande, aan die uiterste vorme van geweld blootgestel is. Die vreemdelingehaat, die plundering van eiendom en die moord op immigrante in Suid-Afrika is slegs die mees onlangse voorbeelde van dreigemente teen mense wat 'n eenvoudige en universeel menslike soeke na 'n beter lewe vir hulle en hulle gesinne het en dikwels gedryf word om risiko's te waag as gevolg van desperaatheid, konflik en onderdrukking in hulle lande van herkoms.
Verklaring 2: Die NG Kerk is diep bewus van die kompleksiteit van misdaad en geweld in Suid-Afrika. Internasionaal is dit aan die toeneem en Suid-Afrika deel in hierdie tendens. In ons eie situasie vererger faktore soos armoede en werkloosheid die probleem. Begrip vir hierdie faktore beteken egter nie dat ons die omvang en intensiteit van misdaadvlakke wat ons tans sien wil regverdig nie.
Vriendelike groete
Gustav Claassen
Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk
Beide verklarings kan onder Nuut Op Die Werf (linkerkolom) afgelaai word.
Op ons reis terug na die Reformasie, ontmoet ons vir Calvyn op 23 Augustus 1534 in Parys. Hy stap saam met mede-Katolieke in 'n optog waarin daar vir die slagoffers van die Swart Dood gebid word.
Sy lewe sou egter binne maande 'n totale omwenteling ondergaan. Na 'n lesing van sy vriend, Nicolaas Cop, rektor van die Universiteit van Parys, oor die Saligsprekinge, moes Calvyn ook vir sy lewe vlug. Die geleerde van Parys het binne dae 'n protestantse vlugteling-sendeling geword wat die evangelie in kelders en grotte verkondig het.
Calvyn vlug na Basel, maar op pad daarheen dwing 'n militêre padblokkade hom om met 'n ompad deur Geneve te reis. Dit is daar, waar Farel, hoof van die kerk in Geneve, by Calvyn pleit om aan te bly en te help met die uitbou van die gemeente.
Die eerste vyf maande het Calvyn, sonder inkomste, geen indruk op die gemeente gemaak nie. Sy deurbraak het egter gekom tydens 'n teologiese debat waar hy groot indruk gemaak het met sy teologiese kennis. Kort daarna is hy aangestel as een van die leraars van die gemeente met die opdrag om ’n geloofsbelydenis en 'n kerkorde vir die gemeenskap op te stel.
Sy kerkorde is in Januarie 1537 deur die stadsbestuur aanvaar, maar is onmiddellik met groot weerstand deur die inwoners begroet. Dit was veral die artikel wat bepaal het dat al die lidmate in die openbaar belydenis van hulle geloof moes doen, wat groot reaksie ontlok het. Daar was ook hewige reaksie teen 'n dissiplinêre proses vir morele oortredings. Weerstand teen Calvyn en Farel het so toegeneem dat hulle verban is.
Hierdie gebeure lei Calvyn na Strassburg, waar hy op uitnodiging van Martin Bucer in 1538 met 'n bediening onder Franse vlugtelinge soos hyself begin het. Oorlewering wil dit hê dat Calvyn drie gelukkige jare in Strassburg deurgebring het. Die gemeente het hom heelhartig aanvaar, hy kon verder studeer, het aan teologiese debatte deelgeneem en het bevriend geraak met die Duitse hervormer, Melanchton.
In 1540 is Calvyn getroud met Idelette de Bure, die weduwee van Jan Stordeur, wat hom tot met haar dood in 1549 versorg het. Calvyn was nie gesond nie, en het onder andere gely aan kroniese hoofpyn, long- en maagprobleme, jig, artritis en slaaploosheid. Volgens Beza was dit slegs te danke aan Idelette se versorging dat Calvyn met sy bediening kon voortgaan.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).