Op ons reis terug na die Reformasie, ontmoet ons vir Calvyn op 23 Augustus 1534 in Parys. Hy stap saam met mede-Katolieke in 'n optog waarin daar vir die slagoffers van die Swart Dood gebid word.
Sy lewe sou egter binne maande 'n totale omwenteling ondergaan. Na 'n lesing van sy vriend, Nicolaas Cop, rektor van die Universiteit van Parys, oor die Saligsprekinge, moes Calvyn ook vir sy lewe vlug. Die geleerde van Parys het binne dae 'n protestantse vlugteling-sendeling geword wat die evangelie in kelders en grotte verkondig het.
Calvyn vlug na Basel, maar op pad daarheen dwing 'n militêre padblokkade hom om met 'n ompad deur Geneve te reis. Dit is daar, waar Farel, hoof van die kerk in Geneve, by Calvyn pleit om aan te bly en te help met die uitbou van die gemeente.
Die eerste vyf maande het Calvyn, sonder inkomste, geen indruk op die gemeente gemaak nie. Sy deurbraak het egter gekom tydens 'n teologiese debat waar hy groot indruk gemaak het met sy teologiese kennis. Kort daarna is hy aangestel as een van die leraars van die gemeente met die opdrag om ’n geloofsbelydenis en 'n kerkorde vir die gemeenskap op te stel.
Sy kerkorde is in Januarie 1537 deur die stadsbestuur aanvaar, maar is onmiddellik met groot weerstand deur die inwoners begroet. Dit was veral die artikel wat bepaal het dat al die lidmate in die openbaar belydenis van hulle geloof moes doen, wat groot reaksie ontlok het. Daar was ook hewige reaksie teen 'n dissiplinêre proses vir morele oortredings. Weerstand teen Calvyn en Farel het so toegeneem dat hulle verban is.
Hierdie gebeure lei Calvyn na Strassburg, waar hy op uitnodiging van Martin Bucer in 1538 met 'n bediening onder Franse vlugtelinge soos hyself begin het. Oorlewering wil dit hê dat Calvyn drie gelukkige jare in Strassburg deurgebring het. Die gemeente het hom heelhartig aanvaar, hy kon verder studeer, het aan teologiese debatte deelgeneem en het bevriend geraak met die Duitse hervormer, Melanchton.
In 1540 is Calvyn getroud met Idelette de Bure, die weduwee van Jan Stordeur, wat hom tot met haar dood in 1549 versorg het. Calvyn was nie gesond nie, en het onder andere gely aan kroniese hoofpyn, long- en maagprobleme, jig, artritis en slaaploosheid. Volgens Beza was dit slegs te danke aan Idelette se versorging dat Calvyn met sy bediening kon voortgaan.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
Dit is die woorde van Johannes Calvyn, een van die bekendste kerkhervormers. Sy bydrae was enorm en sy teologie het 'n groot invloed uitgeoefen op die NG Kerk.
Calvyn is op 10 Julie 1509 in Noyon, Frankryk gebore. Sy ouers het beplan dat hy 'n loopbaan in die kerk sou volg, maar Calvyn wou regte studeer.
Hy is op twaalf na Parys waar hy aan die Collége de la Marche begin studeer het. Hy was 'n ywerige student en daar word vertel hoe hy alles wat hy daagliks nuut geleer het, saans voordat hy gaan slaap het herhaal het, net om in die oggend die vorige dag se lesings weer te herhaal.
Calvyn het sy meestersgraad in 1526 in Parys behaal en daarna sy regstudie aan die universiteit in Orléans voortgesit. Twee jaar later is hy na Bourges om onder die leiding van 'n beroemde Italianer, Andreas Alciati, verder te studeer.
Dit is hier waar Calvyn in aanraking gekom het met 'n Duitse protestant, Melchior Wolmar. Wolmar het hom aan Grieks en aan die Griekse teks van die Nuwe Testament bekendgestel – iets waarvoor in Calvyn se woorde, "ek hom nie genoeg kon bedank nie".
Hoewel ons nie weet waar en wanneer dit gebeur het nie, beskryf Calvyn sy bekering as 'n skielike gebeurtenis "soos wat met Paulus gebeur het". In sy eie woorde: "God het my hart onderwerp en nederig gemaak."
Dit het daartoe gelei dat Calvyn met die Katolieke Kerk gebreek het. Hy moes Parys verlaat en het in Basel gaan bly waar hy begin het om sy teologie te formuleer. In 1536 is die eerste uitgawe van Die Institusie van die Christelike geloof gepubliseer. Dit was 'n kort duidelike verdediging van die teologie van die Reformasie.
In 1537 is Calvyn op versoek van Guillaume Farel na Geneve om die Reformasie daar te help vestig. Daar het hy begin om 'n sigbaarder "Stad van God" in Europa te bou.
Sy lewe was egter nie net maanskyn en rose nie. Tydens sy laaste siekbed in 1564 het hy opgemerk: "Ek het hier 'n merkwaardige worstelstryd gevoer; snags is ek spottend deur 50 of 60 geweerskote voor my deur begroet. Jy kan dink hoe dit ’n arme geleerde soos ek sou verskrik."
Ten spyte van hierdie gebeure, het Calvyn se teologie die gang van die geskiedenis van die kerk onherroeplik verander.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
Hierdie woorde van Ulrich Zwingli tydens 'n preek op 30 Maart 1522 is tiperend van die hervormer van Switserland.
Zwingli het hom openlik uitgespreek teen teologiese wanpraktyke van die Katolieke Kerk. Een daar van was die gebruik om te vas tydens lydenstyd.
Nadat een van sy volgelinge, die drukker Christopher Froschauer besluit het dat sy uitgeputte werkers wors in plaas van die gebruiklike vis tydens lydenstyd kon eet, is al die worseters deur die stadsvaders van Zürich gearresteer en in die tronk gegooi.
Zwingli het sonder om te skroom gereageer deur in die preek te beklemtoon dat die mens vry is om te eet wat jy wil wanneer jy wil omdat Christus die mens kom vrymaak het!
Zwingli is op 1 Januarie 1484, sewe weke na die geboorte van Luther, in die dorpie Wildhaus gebore. Nadat hy sy skoolloopbaan in Latyn voltooi het, en aanvanklike studie aan die Universiteit van Wene, het hy sy studie in 1502 aan die Universiteit van Basel voortgesit.
Dit is daar waar hy tydens die lesings van Thomas Wyttenbach oor die Romeineboek besef het dat vergifnis van sonde alleen in die dood van Jesus Christus te vinde was.
Luther en Zwingli het net een keer persoonlik in 1529 in Marburg ontmoet. Die vonke het gou gespat toe die twee hervormers mekaar se teologie verwerp het en radikaal oor die nagmaal verskil het.
Die rede daarvoor is waarskynlik die feit dat Luther 'n hervormer geword het nadat 'n lang geestelike stryd hom na 'n klooster gedwing het. Zwingli, aan die ander kant, was 'n humanis met 'n meer rasionalistiese benadering tot godsdiens. Luther was 'n volgeling van Augustinus, Zwingli 'n volgeling van Erasmus.
In 'n stadium het die debat persoonlik geraak en het Zwingli Luther toegesnou: "Hierdie sal jou rug breek!" waarop Luther gereageer het met: "Moenie te gou spog nie. Hier word nie nekke gebreek nie. Jy is nou in Duitsland, nie in Switzerland nie."
Hoewel Zwingli later verskoning gevra het, was die skade gedoen en het die twee se paaie uiteen gegaan.
Zwingli het die reformasie in Switserland aangevoer, maar word ook onthou vir sy bitter gevegte met die anabaptiste (wederdopers). Die marteldood van Felix Manz wat op 5 Januarie 1527 verdrink is, het 'n donker skadu oor die lewe en werk van Zwingli gegooi.
Zwingli self het in die tweede Kappeloorlog in 1532 gesterf toe hy van sy perd geval het en met 'n swaard deurboor is. Dit het 'n einde gebring aan die reformasie in Switserland.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
Die Algemene verkiesing op 8 Mei 2019-word wyd beskou as die belangrikste verkiesing sedert 1994.
Die verkiesing vind plaas teen die agtergrond van die ekonomiese gaping tussen ryk en arm wat in die huidige verswakkende ekonomiese bedeling nog verder vergroot. 'n Onvergenoegdheid met onder andere die huidige politieke leierskap op alle vlakke van regering, swak dienslewering, werkloosheid en armoede het ongekende frustrasie, aggressie en woede by veral diegene wat grootliks afhanklik is van die staat, tot gevolg. Verdoemende getuienis oor die omvang van staatskaping het ongekende teleurstelling in die integriteit van die huidige politieke bestel tot gevolg. 'n Emosionele saak soos grond en die onsekerheid oor hoe grondhervorming gaan uitspeel asook die elektrisiteitskrisis veroorsaak verdere onsekerheid. Tekenend van die onvergenoegdheid en volskaalse ontevredenheid is die toename in stakings en protesaksies gedurende die afgelope jare.
Die mededinging om kiesers dryf tans die politieke spanning in die land op die spits. Dit het 'n uiters ongesonde verkiesingsklimaat tot gevolg. Populisme en rasisme is aan die orde van die dag. Onverdraagsaamheid, intimidasie en betogings ruk op plekke hande uit, soveel so dat daar selfs binne partye faksiegevegte en politieke moorde voorkom.
Hierdie omstandighede bied egter aan die lidmate van die NG Kerk 'n besondere geleentheid om getuienis te lewer. Die kerk is gebore uit die gebeure van Christus se lyding en opstanding te midde van geweldige politieke frustrasie en onsekerheid. Die kruis en opstanding van Jesus het egter nuwe perspektiewe geopen en buitengewone hoop gebring. In die koninkryk van Christus kon ons sedertdien met ander verwagtings en waardes leef. Ons fokus is nie meer op eie belang en magsvertoon nie, maar op Christus se geregtigheid en vrede vir almal. Die evangelie bied ‘n hoopgewende alternatief vir magspolitiek en selfsug. Die bydrae van christene tot ons land en wêreld is, in hierdie dae van geweld en stryd, om Christus se liefde, geregtigheid en vrede, sy diensbaarheid en selfloosheid te verkondig en te beliggaam. Verder is die sekerheid van God se teenwoordigheid ‘n blywende inspirasie om Hom na te volg. Hy wil deur ons hoop bring!
Die NG Kerk is besorg oor talle mede landsburgers wat nie toegang tot skoon water, ordentlike opvoeding, goeie mediese sorg, behuising, werksgeleenthede en sekuriteit het nie. Ons glo dat goeie administrasie en bestuurspraktyke, goeie dienslewering, en morele leierskap in elke dorp en stad grootliks sal bydra tot geregtigheid en die menswaardigheid van ons land se mense. Ons bid daarom dat die nuutverkose politieke leiers hulle volle aandag hieraan sal wy en in die styl van Christus hulle naaste met ‘n gees van toewyding en selfloosheid sal dien.
Ons versoek nou alle lidmate om saam te bid vir die verkiesing en die uitkoms daarvan. Gebed is immers 'n geloofsbelydenis dat bo alles, God in beheer is. Met die oog op die algemene verkiesing op 8 Mei, vra ons dat onder meer vir die volgende sake voorbidding gedoen word:
• Vir 'n vrye en regverdige verkiesingsproses sonder omkopery, manipulasie, intimidasie en geweld.
• Vir vrede tydens en na die verkiesing, ongeag die uitslag daarvan.
• Vir die offervaardigheid van verkose leiers om hulle te beywer vir geregtigheid en vrede, versoening en positiewe nasiebou, en die verligting van armoede en werkloosheid.
Vriendelike groete
Gustav Claassen
Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk