Om meer te wete te kom oor Aksie Plus, kontak die Kerkkantoor, alternatiewelik, hou die afkondigings dop vir die datum van die volgende bymekaarkom en onvergeetlike ervaring. Onthou, jou plek is klaar bespreek en jou stoel reggeskuif. Sien jou by die Aksie op ons volgende uitstappie!
NS: Onthou net om die familie ook saam te bring!
Met al die ouderdomme bymekaar laat dit ons toe om elke keer mekaar opnuut te ontdek, ander te leer ken en sommer heerlik saam te lag en gesels as ons een keer per maand bymekaarkom, gewoonlik op 'n Sondag na kerk, waar plekke ontdek en verken word. So is die Gautrein roete al gesien en verken, ons gaan teater en inry toe, drink tee by verskeie kwekerye en teetuine.
Daar is ook al 'n hele aantal staproetes in die natuur voltooi en verskeie geskiedkundige plekke en museums is ook al besoek. Partykeer is dit sommer net 'n gesellige piekniek waar ons onder die bome sit en lag en gesels, speletjies speel of ons gaan eet net pannekoek of hou heerlike sopaande met speletjies of kyk na die sterre. Alles geskied op so wyse dat ons ons Hemelse Vader daarin verheerlik in alles wat ons doen en ervaar.
Die hoogtepunt van elke jaar se gebeure is egter die kamp waar ons vir 'n hele naweek wegbreek om geestelik te groei en mekaar te leer ken in 'n omgewing waar almal "vreemd" is, weg van die daaglikse gewoel en gestoei en so nader aan ons Hemelse Vader te kom in die Natuur.
Jesus het Simon en die twee seuns van Sebedeus saam met Hom na die tuin van Getsemane geneem. Toe dit tyd geword het om te bid, het Jesus van hulle af weggeloop om alleen by Sy Vader te wees. Party dinge in 'n Christen se lewe kan ons met mense deel, maar daar is ander tye wanneer dit 'n alleenloop is, waar ons alleen voor God staan, soos met die oomblik van ons bekering, by verskillende betekenisvolle mylpale op ons geloofspad, en op die dag van ons oordeel en beloning aan die einde van ons Tyd.
Op die ou end is gebed 'n een-tot-Een persoonlike, geestelike ontmoeting. Die oomblik wanneer ons dit besef, is ons vry om te praat, om onsself te wees, om oor te gee, om ons swakhede en sondes te erken en te weet dit is veilig om dit te doen. Dit is hier waar God Sy hart aan ons openbaar, Sy liefde en genade aan ons verklaar, vir ons sê wat ons moet doen en wat Hy vir ons beplan. Stort jou hart uit voor die Here en vra Hom om jou hart te verander sodat jy meer en meer Sy beeld sal reklekteer.
'n Vaardige houtkapper gebruik sy gereedskap met oorleg - hy kap herhaaldelik op presies dieselfde plek totdat die boom omval. Die houtkapper is trots daarop dat hy homself en sy wapen kan beheer, hy kap nooit 'n roekelose hou nie. Net so gebruik 'n verbale misbruiker sy tong soos 'n wapen om aan 'n ander persoon te kap. Die misbruiker is vaardig in sy vermoë om houe toe te dien met sy vlymskerp tong - woorde wat deur hart en siel sny (Psalms 52: 4).
Bid tot die Here om mense se ore oop te maak sodat hulle kan hoor met watter gesindheid en op watter manier hulle met ander mense praat; hoe hulle ander vonnis vir wat hulle verkeerd doen sonder 'n woord van hulle slagoffers. Vra die Heilige Gees om almal wat ander verbaal mishandel, se harte terug te draai na hulle hemelse Vader sodat hulle hulle eie lewens met Hom en ook met hulle slagoffers kan regmaak.