Kom ons leer die kinders!
Wat het die herdenking van die Reformasie vyf eeue gelede te doen met van die uitstaande skole in ons land soos Grey Kollege in Bloemfontein? Wel, eintlik alles!
Die verhaal loop soos volg: In 1855 het Andrew Murray jr met sy bediening in Bloemfontein begin. Murray het gou bewus geword van die behoefte aan 'n goeie skool en het 'n leidende rol gespeel in die vestiging van 'n kollege waar jong mans opgelei kon word as onderwysers.
Sy toewyding aan die saak van onderwys en 'n donasie van £4,500 (R74 934,11) deur Goewerneur George Grey, goewerneur van die Kaapkolonie, het dit moontlik gemaak dat die hoeksteen van Grey Kollege op 13 Oktober 1856 deur president Boshoff gelê is. Met die amptelike opening van Grey Kollege op 27 Januarie 1859 is Murray as die eerste rektor aangewys.
Dit is dieselfde Murray wat bykans 20 jaar vroeër tydens sy studie in Aberdeen, Skotland, met die werk van die Skotse hervormer John Knox te doen gekry het. Knox het op sy beurt weer in Genève met Calvyn se standpunte oor die onderwys te doen gekry.
Van Calvyn in Genève via Knox na Skotland via Murray na Suid-Afrika – en 500 jaar later pluk Suid-Afrika steeds die vrugte van uitnemende skole soos Grey Kollege.
Om die impak van die Reformasie op die onderwys van die tyd te verstaan, moet ons egter vir 'n oomblik stilstaan by Luther. Luther het meer breedvoerig oor die onderwys geskryf as enige van die ander hervormers. Sy twee uitstaande werke was: Aan die Raadslede van alle stede in Duitsland sodat hulle Christelike skole kan vestig en onderhou (1524) en 'n Boodskap om kinders in die skool te hou (1530).
In hierdie twee dokumente het Luther breedvoerig geskryf oor die noodsaaklikheid van opvoeding en onderwys, verskillende curricula, metodes van onderwys, die noodsaak van biblioteke, die verantwoordelikheid van die staat, die verantwoordelikheid van ouers en die belangrike rol wat Christen-onderwysers moes speel.
Daarmee het Luther ongetwyfeld die fondament gelê wat deur ander hervormers soos Calvyn, Melanchton, Zwingli en Knox verder uitgebou en ontwikkel is.
Vyfhonderd jaar later leef Suid-Afrikaners in 'n land met ’n onderwysstelsel in chaos. Miskien moet deel van ons feesvier wees om dit wat hervormers oor die kerk se verantwoordelikheid ten opsigte van onderwys en opvoeding geskryf het, te herbesoek.
Op die spoor van 'n Andrew Murray jr sal daar dalk iewers 'n skool of skole ontstaan wat oor dekades heen 'n positiewe bydrae tot kerk en samelewing kan lewer en dan sal ons kan juig: Ecclesia Reformans semper reformanda" – Leer die kinders!
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
Laat ons uit volle bors sing
In die Gereformeerde tradisie is kerkwees, musiek en sang byna sinoniem met mekaar. Heel dikwels word gemeentes in ons dag "gemeet" aan die sang en musiek van die gemeente.
Hoewel sang en musiek deur die eeue baie verander het en daar ook vandag wesenlike verskille bestaan oor die tipe musiek wat in gereformeerde kerke gebruik word, is die belang van musiek onontkenbaar. Dit was een van die grootste bydraes van die Reformasie.
Luther was 'n groot voorstander van musiek. In 'n brief aan Ludwig Senfl skryf hy: "Ek is nie skaam om openlik te bely dat daar naas teologie geen ander kunsvorm bestaan wat met musiek vergelyk kan word nie. Musiek alleen, kan naas teologie die siel van die mens laat stil word of opbeur. Dit is duidelik dat die duiwel, wat die argitek van neerdrukkende bekommernisse en negatiewe gedagtes is, van die klanke van musiek wegvlug net soos wat hy vlug van die woorde van teologie."
Luther het nie net oor die belang van musiek gepraat nie. As gevolg van sy eie sangvernuf het hy die bynaam "die Wittenbergse nagtegaal" gekry.
Dit is daarom nie vreemd dat Luther die belang van musiek in eredienste verstaan het nie. In 1523 het hy begin om liedere vir 'n liedboek te versamel wat in 1524 gepubliseer is. Onder Luther se leiding het gereformeerde gemeentes begin deelneem aan gemeentesang en het sang en musiek integraal deel van die erediens geword.
Koorsang was altyd vir Luther belangrik, maar 'n gemeente wat sing, was vir hom hemels. In 1528 het hy die beroemde lied 'n Vaste burg is ons God geskryf – 'n lied waarvan ons die eggo's steeds 500 jaar later hard en duidelik hoor.
Dit maak nie saak wat jy van Luther dink of hoe jy sy werk beoordeel nie – een feit staan soos ’n paal bo water: Hy het gereformeerde gemeentes geleer sing!
Waarskynlik is dit een van die grootste nalatings en uitdagings aan gemeentes in ons dag – om weer te begin sing! In ’n tyd waarin musiek in eredienste oorheers word deur voorsanggroepe en orkeste en waar lidmate al meer toeskouers word, daag die Reformasie ons uit om lidmate weer aan die sing te kry.
Om gereformeerd te wees beteken om waar lidmate in die erediens saamkom uit volle bors saam te sing!
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
Sê Nou Net ...
Dit is die jaar 2017 – 500 jaar sedert Martin Luther en die Reformasie onder sy leiding die geskiedenis van die kerk onherroeplik verander het. Beteken dit nog iets vir ons in 2017? Indien wel, wat?
Anders geformuleer: Sê nou net Martin Luther sou in Januarie 2017 hier aan die suidpunt van Afrika met ons kon praat – dalk selfs in die Groote Kerk kon preek – wat sou hy sê?
Pass skryf tereg dat een van die hoofdoelstellings van die Reformasie was om die leer van die kerk en die lewe van lidmate opnuut in lyn met God se Woord te bring. Luther, Zwingli, Bucer en Calvyn was volgens hom in wese agente vir 'n Back to the Bible-beweging. Vandaar sola Scriptura – die Woord alleen!
Dalk sou dit een van die belangrikste punte van Luther se boodskap aan 'n kerk in die lande hier aan die suidpunt van Afrika wees. Sê nou net hy sou aan lidmate wat kreun onder die swaar las van geweld, korrupsie, rassisme en ander vorme van misdaad en onreg, sê: "Fokus opnuut op die Bybel! Lees dit met nuwe ywer, bestudeer dit en gaan leef dit ondanks julle omstandighede!"
Dalk sou ons dan ophou wroeg en beledig en vloek en slegsê soos almal rondom ons, maar opnuut ontdek dat ons uit genade gered is omdat ons glo. Dat ons daarom deel is van 'n geloofsgemeenskap wat 'n spesifieke roeping in hierdie wêreld het. Ons sou onthou dat God se norme en waardes en liefde ons denke en ons dade moet bepaal en ons sou opnuut begin leef as mense wat daarna streef om iets van God se koninkryk in hierdie stukkende lande sigbaar te laat word.
Sê nou net Luther sou ons verder daaraan herinner dat die geloofsgemeenskap waarvaan ons deel is, nie maar net nog 'n groep of 'n klub is waaraan ons behoort nie, maar dat dit die Kerk van Jesus Christus is wat oorwinnend deur die geskiedenis op reis is.
Dan sou ons dalk ons kop kon optel om ongeag ons omstandighede as oorwinnaars in Christus in hierdie lande te begin leef. Dan sou ons kon help om ’n gemeenskap te transformeer met nuwe waardes. Ons sou onder meer armoede help bekamp, ons sou betrokke raak by die onderwyskrisis, ons sou pleit vir reg en geregtigheid, ons sou Jesus Christus as die enigste Verlosser opnuut met ywer en oorgawe verkondig – ons sou sonder moeite missionaal kerk kon wees.
Sê nou net dit sou gebeur … Dan kry die Reformasie van 500 jaar gelede nuwe sin en betekenis.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede