NG Gemeente Rietfontein-Suid

Ons Gee Om

Die Sending Sonder Grense bediening

Die bediening van Sending Sonder Grense

Die bediening van Sending Sonder Grense is primêr om geestelike, opvoedkundige, emosionele en materiële (G.O.E.M.) bystand te verleen en wel deur die volgende programme en projekte, naamlik:

Kinderredding Internasionaal(KRI) en Kinder Herstelhuise

Bystand aan hierdie kinders deur middel van borgskap teen R160 per maand. Borge ontvang jaarliks nuwe inligting en fotos van “hul” kind en kan briefies stuur.

Gesin-tot-Gesinprogram

Bystand aan behoeftige gesinne deur middel van borgskap @ R150pm (dis genoeg om ‘n kwart van die behoeftes van ‘n gesin aan te spreek).

Gemeenskapsentrums

Sending Sonder Grense versterk deur middel van vennootskappe plaaslike gemeentes in hulle uitreiking na hulpbehoewendes in hulle gemeenskap. Nie alleen materiële en emosionele sorg nie, maar ook deur middel van die Evangelie.

Kinder- en Moedersorgprojek

Sending Sonder Grense staan jong, verwagtende moeders by tydens die swangerskap tot na die geboorte. Gestremde en mishandelde kinders, straatkinders en kinders in tronke word ook bygestaan.

Gesinsorgprojek

Met hierdie projek help ons op ‘n voortdurende basis gesinne wat in ‘n krisis is. Hulle word ook gehelp deur projekte (Operasie Kersliefde en Operasie Winterredding) en ons mediese klinieke.

Christelike Uitreiking

Elke program en projek is ‘n uitreiking in reaksie op die bevel in Matthéüs 28: 19:

  • Verskaffing en verspreiding van Bybels en Christelike literatuur;
  • Bybelkorrespondensiekursusse;
  • Christelike Insetklasse (Sondagskool) in die kinderhuise waar ons werksaam is.

Die sending se werkswyse

Die Sending se werkswyse is om die inheemse mense van die lande te gebruik deur hulle te bemagtig sodat hulle hul eie mense met die Evangelie kan bereik. Deur dit te doen erken ons die waardigheid van die individu en help om kapasiteit tot selfversorging te ontwikkel. Ons gebruik die infrastruktuur wat oor baie jare heen gevestig is om ons bediening in hierdie lande te vergemaklik soos byvoorbeeld ‘n sendingsentrum in elke land, mediese klinieke in Albanië, en sopkombuise in samewerking met plaaslike gemeentes in Bosnië, Oekraïne en Bulgarye.

Ons internasionale en geaffilieerde operasies word op ‘n jaarlikse basis deur onafhanklike ouditeure geoudit. Die Suid-Afrikaanse ouditeurs is Anderson, Rochussen, Van der Bijl Ingelyfde Geoktrooieerde Rekenmeesters (SA). Ons administratiewe onkostes beloop slegs ‘n klein persentasie van ons totale inkomste (4.33% in 2008).

 

Rietfontein-Suid se betrokkenheid by Gurue, Mosambiek

Voor die Welman gesin se vertrek begin Januarie 1999, het Rietfontein-Suid medeverantwoordelikheid geneem in terme van finansiële en morele ondersteuning. Japie en Ena Le Grange was die kontakpersone. Die Welmans was hoofsaaklik besig met die vestiging en daarstelling van strukture van 'n nuwe gemeente in Gurue. Daarmee saam moes Anthonie op eenvoudige wyse die Woord verduidelik, die mense het geen woordkennis gehad nie. Leiers van die kerkies moes opleiding ontvang om sommige Sondae op hul eie 'n erediens te lei. Elsabé was betrokke by die vrouens, het soms werkswinkels aangebied en ook die Woord verduidelik. Elsabé het ook weekliks 'n kindergroep gehad.

Anthonie het 'n mielieprojek hanteer (koop mielies vanaf gemeentelede, stoor dit en deel uit in die honger-maande).

Chabwe skool is gestig en bedryf in een van die areas onder toesig van die IRM en Anthonie. Baie aandag is ook aan die skool en die bou daarvan gewy.

Nadat 'n uitreikgroep uit Klerksdorp Gurue besoek het, is die behoefte aan 'n radio bediening raakgesien. Freddie Swart het vir baie jare die aanvoorwerk gedoen. Anthonie en Freddie, in samewerking met pastore van ander kerke in Gurue, het Omwiwa Yesu gestig en saai tot vandag toe christelike programme uit op die plaaslike radiostasie.

Anthonie het ook die behoefte begin noem vir 'n bybelskool, maar dit het nie gerealiseer nie omdat die gesin moes terugkeer na Suid- Afrika ter wille van hulle tienerkinders (Desember 2004).

Allen en Ansie Van Der Merwe het oorgeneem by die Welmans en hulle gevestig in Gurue. Allen het die Woordskool op die been gebring en die leiers stuk-stuk begin oplei. Allen het self die opleidingsfasiliteite gebou.

Allen hou ook toesig oor die radio projek. Hy het die programmeerders rekenaarvaardigheid geleer, mooi verhoudinge gebou met regeringsamptenare wat baie positiwiteit teenoor hierdie projek teweeggebring het.

Allen en Ansie is ook baie betrokke by die Chabwe skool se bestuur en onderhoud van geboue. Ansie het bv. ook sakkies gemaak vir Chabwe leerlinge se skoolboeke. Ansie het op 'n stadium ook Engelse rekenaarlesse gegee deurweef met bybelse beginsels.

Oor die here tydperk was Rietfontein-Suid betrokke in die sendelinge se lewens en versorging, en het Japie en Ena altyd baie spesiale sorg getoon en altyd kontak behou. Daarvoor is beide die Welmans en Van Der Merwes baie dankbaar!!

deur

Elsabé Welman