NG Gemeente Rietfontein-Suid

Ons Gee Om

Selfdegeslag Verbintenisse - Appélproses

Skrywe van die Algemene Sekretaris – Appélproses

Beste kollegas,
Soos ooreengekom skryf ek direk aan jou, van tyd tot tyd, oor sake op die kerklike terrein. My skrywe het altyd ten doel om jou so goed as moontlik in die prentjie te bring oor ontwikkelinge rondom dit wat op die agenda van die ASM se sakelys is. Andersins kommunikeer ek belangrike inligting is wat jy spoedeisend moet van kennis neem. Hierdie skrywe, langer as gewoonlik, wil aan jou belangrike inligting en agtergrond, gee oor 'n berig wat heel moontlik môre, die 13de Augustus, in die Rapport sal verskyn.
Die Moderamen het laat gistermidag 'n prokureursbrief ontvang wat namens lidmate op regsgronde versoek dat daar voortgegaan moet word met die uitvoering van die besluite van die Algemene Sinode oor selfdegeslag verbintenisse. Prop LLB Gaum, Prof HL Bosman, Dr M Coetzee, Dr FM Gaum, Dr C Jones, Prop JJ Kotze, Dr N Marais, PH Oberholzer, HW Pienaar, L Vermeulen, en Adv L Wessels is oortuig dat die appélproses teen Algemene Sinode besluite nie regsgeldig is nie. Die reëls van Reglement 19 van die Kerkorde is volgens die briefskrywers strydig met die Kerkorde waaraan dit ondergeskik moet wees. In 'n tweede versoek betoog hulle dat die opskorting van die uitvoering van die Algemene Sinode se besluite ook ongeldig is en nie in ooreenstemming met soortgelyke regspraktyk is nie. Ter stawing van beide betoë het hulle ‘n regsmening van Adv Wim Trengrove bekom en aangeheg aan hulle skrywe.
Die besluite van die NG Kerk se Algemene Sinode van Oktober 2015 oor selfdegeslagverhoudings is gevolg deur verskeie appélle daarteen. Sommige punte in die appélle handel met tegniese kwessies en ander met die beginsel van die saak. Dit was die eerste keer dat lidmate teen 'n besluit van die Algemene Sinode appél aangeteken het. Hoewel die Kerkorde slegs voorsiening maak vir appélle na 'n meerdere vergadering, d.w.s van bv. 'n ring na 'n sinode, is daar in die onlangse verlede 'n punt in Reglement 19 van die Algemene Sinodale reglemente toegevoeg wat nou voorsiening maak vir appélle teen besluite van die Algemene Sinode.
Van die begin af was daar vrae of die reglement nie buite orde is nie, aangesien die Kerkorde self nie melding maak van die moontlikheid van appélle teen besluite van die Algemene Sinode nie. Daar is ook vertoë gerig en betoog teen die opskorting van die uitvoering van die besluite van die Algemene Sinode vanweë die appélle. Die Moderamen en Algemene Taakspan Regte (ATR) het onder meer 'n brief ontvang van 65 lidmate wat beswaar gemaak het teen die besluit om die uitvoering van die Algemene Sinode se besluite tydelik op te skort hangende die appélle.
Reglement 19 maak voorsiening dat 'n volgende Algemene Sinode of 'n appélliggaam wat deur die ATR aangewys moet word, die appélle moet aanhoor. Die ATR het besluit om sodanige appélligaam aan te wys, maar dat dit moet bestaan uit persone wat nie by die vorige Algemene Sinode teenwoordig was nie. Die ATR moes hiervoor eers met sekundi aangevul word. Dit moes deur die moderamen gedoen word. Die appélliggaam kan gevolglik nou eers saamgeroep word. Reglement 19 bepaal egter dat die appélle binne 21 dae na die ontvangs daarvan aangehoor moet word of deur 'n volgende Algemene Sinode.
Ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen, het na die ontvangs van die brief gesê dat dit nie sleg is dat daar regsekerheid oor hierdie aangeleentheid verkry word nie. Terwyl daar nie regsekerheid is nie, sal daar altyd agterdog bly bestaan oor die regsgeldigheid van die appélproses en die opskorting van die uitvoering van besluite waarteen daar geappelleer word. Sy aanvoeling is dat dit wenslik is dat 'n hoër hof uitsluitsel gee oor beide aangeleenthede. Sou die appélproses op regsgronde gestuit word, bly die moontlikheid steeds bestaan om in terme van die Kerkorde die volgende Algemene Sinode te nader met 'n beswaarskrif of 'n gravamen.
Hy het ook gesê "hoe vinniger ons met die regsproses kan vorder, hoe beter vir almal. Ons is ongelukkig in onbekende vaarwaters en die advies van regslui en -prosesse kan vir ons selfs verder help met die oog op kerklike prosesse. Intussen word daar in die moderamen gedink aan moontlike maniere waarop daar groter insluiting kan kom van kerkvergaderings by besluitnemingsprosesse wat met kontensieuse sake handel. Die moderamen is ook besig met die ontwikkeling van ‘n missionale strategie vir die Algemene Sinode se werksaamhede. Laat ons almal saam in hierdie dae bid dat die Hoof van die Kerk, ons op ongekende maniere sal lei tot geloof en diensbaarheid. Die oes is immers groot."
Saam in Sy diens.
Gustav Claassen
Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk