NG Gemeente Rietfontein-Suid

Ons Gee Om

Omgeebediening

Dit is die bediening wat die omgeegroepe ondersteun en organiseer.

Omgeegroepe is in hierdie gemeente die primêre "voertuig" van bediening en versorging!

Navrae

Niks kom maklik nie – dit kos oefening

Eis baie van jouself en verwag min van ander

Elsie stap heel vriendelik by haar werk in. Begin almal wat sy teëkom voorbeeldig te groet. Maar nog voordat sy by haar lessenaar kom voel sy sommer hoe 'n woede in haar begin opstoot. Sannie kom van voor af aangedrentel - haar aartsvyand op hierdie vloer van die gebou. Om dinge nog meer te kompliseer, is die vroumens se werkstasie reg langs Elsie s'n. Haar dag is nou sommer opgevoeter!

Klink dit miskien bekend? Natuurlik … Almal kom tog nie ewe goed klaar nie. Persoonlikhede bots en as 'n mens nie met die regte gesindheid die situasies hanteer nie – kan dit jou hele dag bederf - jou goeie voornemens is vanselfsprekend by die venster uit!

Hoe skakel die insident by omgeegroepe in? Daar is altyd 'n Elsie (dalk 'n bietjie liggeraak), Sannie (dalk 'n bietjie hardkoppig) en nog boonop 'n Pietie wat dalk 'n bietjie langdradig is in jou omgeegroep. Pietie trek nog by die bure se kat wat oor sy muur gespring het dan weet Grietjie al laaaaankal dat Pietie se hond die kat gaan jaag en die gort is dan gaar en … en ….en …..

Daarom verwys ons graag, onder andere, na ons omgeegroepe as ons "oefen veld". Ons leer om vir mekaar om te gee, geduld met mekaar te hê en regtig mekaar te leer ken sodat daardie ou klein probleempies later glad nie eers meer saak maak nie.

Hoe kry ons dit reg?

Deur met "Jesus-oë" na ons mede boeties en sussies wat langs of oorkant ons sit te kyk. Ons gesindheid teenoor ons medemens begin te verander namate ons geestelik groei. Sodoende begin dit wyer uit te kring na ons huise en werksplekke. Ons verhoudings met ons familie, vriende, ens, begin te verbeter, want ons oefen mos elke week daaraan. Niks kom maklik nie – dit kos oefening ……

Eis baie van jouself en verwag min van ander – dan sal jy nie so dikwels teleurgestel word nie.

Elkeen van ons is uniek!

Elkeen van ons is uniek en ons het mekaar nodig

Tydsaam stap ek in 'n christelike boekwinkel tussen die rakke deur en bekyk vlugtig die verskeidenheid leesstof beskikbaar. Skielik steek ek vas - die titel van 'n boek het my aandag getrek – "Have a New Teenager by Friday". Nou kyk!! As 'n ding te goed klink om waar te wees, is dit heelwaarskynlik presies so. Net daar en dan besluit ek om aan te beweeg en my geld veilig in my beursie te stoor.

Aan die anderkant – hoekom sal ek my tiener wil verander wat eintlik so uniek is.

Die voorval het my laat dink aan kind van die Here wees. Bitter graag sou ek 'n "kitsoplossing" wou hê om teen "Vrydag" die perfekte kind van Christus te wees. Die werklikheid is dat dit 'n lewenslange proses is. Dit verg iets van my om 'n verhouding met Jesus te hê. Om daagliks met Hom te kan wandel en om myself aan my medemens beskikbaar te stel.

Dit bring my by die punt van Omgeegroepe – die hartklop van ons gemeente. Dit is waar oefenruimte geskep word vir geestelike groei, mekaar bedien, gawes ontdek en uitgeleef word. Die plek waar die fokus van myself 'n bietjie kan verskuif word na die behoeftes van 'n ander.

Ons bestaan tans uit die volgende Omgeegroepe:

Bybelstudie Omgeegroep, Immergroen vir Jesus Omgeegroep, Tait vir Jesus Omgeegroep, Kuierhoekie Omgeegroep, Jeug Omgeegroep, Elim Omgeegroep, Andreas Omgeegroep, Thomas Omgeegroep, Witklippies Omgeegroep, Vreugdegroep, Taddeus Omgeegroep, Damaskus Omgeegroep, Alfonso Omgeegroep, Môrekruis Omgeegroep en Houtkruis Omgeegroep.

My uitdaging aan elkeen wat nog nie betrokke geraak het nie – om dit werklik 'n saak van gebed te maak, die wilsbesluit te neem om in te skakel en deel te wees van die groot prentjie van "Die Gemeente wat vir almal OMGEE" en ook dat Christus Eerste! in ons lewens is.

Elkeen van ons is UNIEK en ons het mekaar nodig om werklik dissipels van Jesus te wees!