'n Gebed
Here, al waai die aandwind van ons lewens en maak die sakkende son van ons aardsbestaan ons aandskaduwees lank voordat hulle vir goed verdwyn. Laat ons enduit wees:
Die edel appelboom tussen die wilde bome van die bos, in wie se skaduwee U verlang om te sit en wie se vrugte soet is vir U verhemelte.
Hooglied 2: 3 - "Soos 'n appelboom onder die bome van die bos, so is my beminde onder die seuns. Ek het verlang om in sy skaduwee te sit, en sy vrugte is soet vir my verhemelte." (1953-vertaling)
Die soet water wat uit U, die fontein van die Lewe, vloei om verlore siele se dors te les.
Johannes 4: 14 - "Maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nie dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word 'n fontein van water wat opspring tot die ewige lewe. (1953-vertaling)
Spreuk
Bekommernisse neem nie die moeilikhede van môre weg nie; dit neem die vrede van vandag weg en versmoor jou moed vir môre deurdat jy versuim om al jou bekommernisse op Hom te werp.
1 Petrus 5: 7 - "Werp al jou bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle." (1953-vertaling)
Oom Piet Barnard
Kuierhoekie
Ek is baie opgewonde oor die 4 weke reeks (2, 9 Februarie en 2, 9 Maart) wat ons gaan aanpak en hoop dit gaan 'n impak op elkeen se lewe maak en dat daar groot dinge daaruit sal voortspruit.
Die tema van die reeks is: "Jy is gemaak om 'n verskil te maak".
Diep binne in ons wil ons almal tog 'n verskil maak, maar dit is soms moeilik vir ons om verby ons eie issues, probleme en afleidings te kom, om te sien maar ons kan nou `n verskil maak!
Ons gaan kyk hoe veral tieners 'n verskil gemaak het in mense se lewens deur hulle gawes en talente te gebruik en op die Here te vertrou.
Hier gaan ons na die boek van Handelinge kyk en sien hoe God gewone mense gebruik het om 'n verskil in ander se lewens te maak!
So kom join ons op hierdie 4 Sondae 18:00 by die kerk!!!
Gaan kyk ook na hierdie videoclip: http://www.youtube.com/watch?v=hSvCA_wXTU8&feature=youtu.be