Dit is die woorde van Johannes Calvyn, een van die bekendste kerkhervormers. Sy bydrae was enorm en sy teologie het 'n groot invloed uitgeoefen op die NG Kerk.
Calvyn is op 10 Julie 1509 in Noyon, Frankryk gebore. Sy ouers het beplan dat hy 'n loopbaan in die kerk sou volg, maar Calvyn wou regte studeer.
Hy is op twaalf na Parys waar hy aan die Collége de la Marche begin studeer het. Hy was 'n ywerige student en daar word vertel hoe hy alles wat hy daagliks nuut geleer het, saans voordat hy gaan slaap het herhaal het, net om in die oggend die vorige dag se lesings weer te herhaal.
Calvyn het sy meestersgraad in 1526 in Parys behaal en daarna sy regstudie aan die universiteit in Orléans voortgesit. Twee jaar later is hy na Bourges om onder die leiding van 'n beroemde Italianer, Andreas Alciati, verder te studeer.
Dit is hier waar Calvyn in aanraking gekom het met 'n Duitse protestant, Melchior Wolmar. Wolmar het hom aan Grieks en aan die Griekse teks van die Nuwe Testament bekendgestel – iets waarvoor in Calvyn se woorde, "ek hom nie genoeg kon bedank nie".
Hoewel ons nie weet waar en wanneer dit gebeur het nie, beskryf Calvyn sy bekering as 'n skielike gebeurtenis "soos wat met Paulus gebeur het". In sy eie woorde: "God het my hart onderwerp en nederig gemaak."
Dit het daartoe gelei dat Calvyn met die Katolieke Kerk gebreek het. Hy moes Parys verlaat en het in Basel gaan bly waar hy begin het om sy teologie te formuleer. In 1536 is die eerste uitgawe van Die Institusie van die Christelike geloof gepubliseer. Dit was 'n kort duidelike verdediging van die teologie van die Reformasie.
In 1537 is Calvyn op versoek van Guillaume Farel na Geneve om die Reformasie daar te help vestig. Daar het hy begin om 'n sigbaarder "Stad van God" in Europa te bou.
Sy lewe was egter nie net maanskyn en rose nie. Tydens sy laaste siekbed in 1564 het hy opgemerk: "Ek het hier 'n merkwaardige worstelstryd gevoer; snags is ek spottend deur 50 of 60 geweerskote voor my deur begroet. Jy kan dink hoe dit ’n arme geleerde soos ek sou verskrik."
Ten spyte van hierdie gebeure, het Calvyn se teologie die gang van die geskiedenis van die kerk onherroeplik verander.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).