Op ons reis terug na die Reformasie, ontmoet ons vir Calvyn op 23 Augustus 1534 in Parys. Hy stap saam met mede-Katolieke in 'n optog waarin daar vir die slagoffers van die Swart Dood gebid word.
Sy lewe sou egter binne maande 'n totale omwenteling ondergaan. Na 'n lesing van sy vriend, Nicolaas Cop, rektor van die Universiteit van Parys, oor die Saligsprekinge, moes Calvyn ook vir sy lewe vlug. Die geleerde van Parys het binne dae 'n protestantse vlugteling-sendeling geword wat die evangelie in kelders en grotte verkondig het.
Calvyn vlug na Basel, maar op pad daarheen dwing 'n militêre padblokkade hom om met 'n ompad deur Geneve te reis. Dit is daar, waar Farel, hoof van die kerk in Geneve, by Calvyn pleit om aan te bly en te help met die uitbou van die gemeente.
Die eerste vyf maande het Calvyn, sonder inkomste, geen indruk op die gemeente gemaak nie. Sy deurbraak het egter gekom tydens 'n teologiese debat waar hy groot indruk gemaak het met sy teologiese kennis. Kort daarna is hy aangestel as een van die leraars van die gemeente met die opdrag om ’n geloofsbelydenis en 'n kerkorde vir die gemeenskap op te stel.
Sy kerkorde is in Januarie 1537 deur die stadsbestuur aanvaar, maar is onmiddellik met groot weerstand deur die inwoners begroet. Dit was veral die artikel wat bepaal het dat al die lidmate in die openbaar belydenis van hulle geloof moes doen, wat groot reaksie ontlok het. Daar was ook hewige reaksie teen 'n dissiplinêre proses vir morele oortredings. Weerstand teen Calvyn en Farel het so toegeneem dat hulle verban is.
Hierdie gebeure lei Calvyn na Strassburg, waar hy op uitnodiging van Martin Bucer in 1538 met 'n bediening onder Franse vlugtelinge soos hyself begin het. Oorlewering wil dit hê dat Calvyn drie gelukkige jare in Strassburg deurgebring het. Die gemeente het hom heelhartig aanvaar, hy kon verder studeer, het aan teologiese debatte deelgeneem en het bevriend geraak met die Duitse hervormer, Melanchton.
In 1540 is Calvyn getroud met Idelette de Bure, die weduwee van Jan Stordeur, wat hom tot met haar dood in 1549 versorg het. Calvyn was nie gesond nie, en het onder andere gely aan kroniese hoofpyn, long- en maagprobleme, jig, artritis en slaaploosheid. Volgens Beza was dit slegs te danke aan Idelette se versorging dat Calvyn met sy bediening kon voortgaan.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).