Op 31 Oktober 2017 vind die vyfhonderdjarige herdenking van die Reformasie plaas. Volgens oorlewering het Martin Luther op 31 Oktober 1517 sy 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker.
Alhoewel dit 'n uitnodiging tot gesprek was, word dit allerweë beskou as die begin van 'n reeks gebeure wat op 'n breuk met die Katolieke Kerk uitgeloop het en wat bekend sou word as die Reformasie.
Die Woord alleen, genade alleen, geloof alleen en Christus alleen was die boustene van die Reformasie wat deur die eeue die pilare van die gereformeerde godsdiens sou word.
Dit is ook waar die teologiese wortels van die NG Kerk te vind is. Via Johannes Calvyn en later ons Neder¬landse voorvaders het die gereformeerde godsdiens in 1652 saam met Jan van Riebeeck in die Kaap geland. Die koms van die Franse Hugenote in 1688 het die invloed van die Reformasie aan die suidpunt van Afrika verder versterk.
Wat maak hierdie gebeure vandag relevant en belangrik? Die slagspreuk "Terug na die toekoms!" help ons verstaan. Dit beteken dat ons verstaan van die hede en ons visie vir die toekoms bepaal word deur ons verlede. Wie nie rekening hou met die verlede nie sal moeilik sin vind in die hede en nog moeiliker koers hou in die toekoms.
Daarom nooi ek jou saam op 'n reis, 'n reis wat ons gaan terugneem in ons gereformeerde verlede. As reisgenote gaan ons belangrike rolspelers in die reformasie opsoek en met hulle in gesprek tree, gaan ons by belangrike plekke en vergaderings aandoen en gaan ons die ontstaan van belangrike leerstellings oordink.
In 2017 gaan ons saam voortreis deur die hede op pad na 31 Oktober en saam soek na die sin en betekenis van gereformeerd-wees in die 21ste eeu.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).