Met die eerste tree op ons reis terug na ons gereformeerde verlede bevind ons ons op die drumpel van die wêreld van die Renaissance. Dit beteken hergeboorte, en is gebruik om die herlewing van die waardes van die klassieke Griekse en Romeinse beskawings aan te dui.
Die groot hergeboorte het aan die begin van die 15e eeu in Italië begin en gedurende die 15e en 16e eeue oor die grootste deel van Wes-Europa versprei.
Dit het plaasgevind in 'n wêreld waarin die mensdom twee groot bedreigings beleef het – die pes wat ook bekend gestaan het as die Swart dood en die Turke. Beide het teen die middel van die 14e eeu op die toneel verskyn.
Builepes het Europa teen ongeveer 1347 getref en binne drie jaar 'n derde van Wes-Europa se bevolking uitgewis. In 1354 het die Moslem-Turke 'n wesenlike bedreiging geword toe hulle Gallipoli ingeneem het en hulle opmars na Europa begin het. Hierdie bedreiginge het die mensdom na 'n nuwe era laat smag.
Die Renaissance het die kerk ook direk geraak en sou die teelaarde word van die reformasie. Volgens oorlewering is die kerk op die drumpel van die Renaissance gekenmerk deur nalatigheid, gebrekkige opleiding, pligversaking en losse sedes onder die geestelikes. Hierdie toestand is deur die meeste lidmate as vanselfsprekend aanvaar.
Wat sake vererger het, is die hoë mate van amptelike goedkeuring wat hierdie wanpraktyke geniet het. Machiavelli, 'n bekende politieke kommentator uit die 15e eeu, skryf byvoorbeeld dat korrupsie al meer toeneem hoe nader jy aan Rome beweeg het. In 1510, sewe jaar voor sy openbare protes, lees ons dat Luther ook diep geskok was na 'n besoek aan Rome.
Die donker omstandighede in Europa op die drumpel van die Renaissance het nie net die samelewing nie, maar ook die kerk voorberei op ’n nuwe era wat sou aanbreek.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).