NG Gemeente Rietfontein-Suid

Ons Gee Om

Reformasie 500 - 'n Nuwe sak vir nuwe wyn

Die Bybel in Duits

"Ek brand eerder in 'n rooiwarm vuur as om hier te sit en verrot".

Hierdie opmerking van Luther vertel iets van sy gemoedstoestand as banneling in die kasteel in Wartburg. Dit het egter nie lank geduur voordat Luther sy ballingskap as 'n geleentheid begin sien het nie. Alhoewel hy longontsteking opgedoen het en aan hardlywigheid gely het, was hy veilig en het hy tyd gehad om te dink en te studeer. Sy pen het die instrument geword waarmee hy die Reformasie vanaf sy "Patmos" lewend gehou en bevorder het.

Een van die belangrikste bydraes wat Luther in hierdie tyd gemaak het, was die vertaling van die Bybel in Duits. Alhoewel daar reeds verskeie Duitse vertalings van die Bybel bestaan het, was dit volgens Luther ontoereikend omdat dit blote vertalings van die Vulgaat was. Dit was boonop baie duur en buite die bereik van gewone gelowiges. Hy het aan die werk gespring en teen September 1522, slegs drie maande nadat hy begin werk het, was sy Duitse vertaling van die Nuwe Testament by die drukpers. Albert Hyma, een van Luther se grootste kritici, skryf hieroor: "Selfs sy debat met Eck te Leipzig was nie so 'n aardskuddende gebeurtenis soos sy vertaling van die Bybel nie."

Die vertaling was 'n kitssukses. Melchior Lotter het dit in Wittenberg op drie verskillende drukperse gedruk. In drie maande is bykans 5 000 kopieƫ verkoop. Voordat die volledige Bybel in 1534 gedruk is, het 87 uitgawes verskyn en is meer as 200 000 kopieƫ gedruk.

Die vertaling van die Bybel in Duits was spreekwoordelik die nuwe wynsak vir die nuwe wyn waarmee Luther as teoloog na vore gekom het. Dit was die bron van sy teologie en die gesag waarop hy hom deurentyd beroep het. Regverdigmaking deur geloof, die Skrif alleen, geloof alleen, genade alleen en die priesterskap van alle gelowiges was die wyn wat uit hierdie nuwe sak gevloei het.

Luther se bydrae tot die reformasie het egter ook verder as bloot sy teologie gestrek. Die belangrikheid van prediking en musiek in die erediens, die ononderhandelbare belang van onderrig en lering en sy verstaan van die kerk as liggaam van Christus het boustene geword in 'n nuwe geloofstradisie van kerkwees wat soos 'n veldbrand deur die hele Europa versprei het.

Na sy dood in 1546 was geleerdes dit eens: Luther het die historiese kern van die Christendom herontdek!

Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).