NG Gemeente Rietfontein-Suid

Ons Gee Om

Reformasie 500 - Johannes Hus Sterf op die Brandstapel

Eerste Martelaar van die Reformasie

Op reis deur die geskiedenis van die Reformasie, moet ons vir 'n oomblik by Konstanz aandoen. Dit is waar die eerste martelaar van die Reformasie op die brandstapel gesterf het.

Die gebeure is soos volg beskryf: "Buite die stad het sy boeke reeds gebrand. Hy is daarby verby gelei na die brandstapel wat vir hom gewag het. Terwyl die vlamme hom verswelg het, het hy uitgeroep: "Christus, U die seun van die lewende God, wees my genadig!" Nadat hy die gebed 'n derde keer gebid het, het die wind gedraai en is sy stem nie weer gehoor nie."

So het Johannes Hus in 1415 in Konstanz, Duitsland, as eerste martelaar van die Reformasie gesterf.

Hus is in 1369 in Husinec in die Tsjeggiese Republiek gebore en het 'n groot deel van sy loopbaan as dosent aan die Universiteit van Praag en as prediker by die Bethlehem-kapel by die universiteit deurgebring.

Hy het bekend geword vir sy kritiek teen die kerk omdat hy onder meer verkondig het dat die Bybel meer gesaghebbend as die tradisie was, dat die preek die belangrikste deel van die erediens moes wees en dat die kerk die liggaam van Christus is waarvan Christus self die enigste hoof is.

Hus het hom verder veral die argwaan van die kerk op die hals gehaal deur te beklemtoon dat net God sondes kan vergewe en dat aflaatbriewe waardeloos was.

Na uitgerekte geskille met die kerk in Praag, is sy saak na Rome verwys. In 1415 moes hy homself by die Konsilie van Konstanz gaan verdedig. Hy is egter gevange geneem en ter dood veroordeel sonder dat hy ooit die geleentheid gehad het om sy saak te stel.

Meer as 600 jaar later is Johannes Hus se dood een van die bakens op die pad van die Reformasie – in die woorde van een van sy volgelinge steeds "'n oproep tot dissipelskap en 'n lewe van toewyding aan die lewende God".

Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).