Volgens oorlewering het Martin Luther sy 95 stellinge teen die Katolieke Kerk op 31 Oktober 1517 teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker.
Die dokument, wat in Latyn geskryf was, is ook aan Albert, die aartsbiskop van Mainz gestuur. Luther het versoek dat die aartsbiskop sy stellinge aan die Skrif toets en dat die verkoop van aflaatbriewe onmiddellik stopgesit moes word.
Verskeie kopieë is deur Johann Grünenburg van Wittenberg gedruk en die 95 stellinge is binne dae in Duits vertaal. Dit het soos 'n veldbrand oor die hele Europa versprei en na 'n maand was dit ook in Engeland beskikbaar.
Reaksie uit kerk en staat het toegeneem namate minder en minder aflaatbriewe verkoop is. Dit het gou duidelik geword dat Luther se standpunte groot finansiële verliese vir die kerk en staat tot gevolg gehad het.
Alhoewel hy die kerk en teoloë van sy tyd in die 95 stellinge uitgedaag het, was daar veel meer op die spel. Die hele Middeleeuse skema van verlossing soos wat die skolastici dit uitgewerk het en die kerk dit verkondig het, het onder verdenking gekom.
Luther se fundamentele vrae oor die aard van bekering, vergifnis en verlossing het verder nie net die kerk uitgedaag nie, maar ook die hele finansiële stelsel van Europa tot in sy wese geskud.
Die hooffokus van sy kritiek word in die eerste stelling reeds duidelik: “Toe ons Here en Meester Jesus Christus gesê het: 'Bekeer julle' (Matt 4: 17) het Hy daarmee bedoel dat die hele lewe van 'n gelowige 'n lewe van bekering moet wees.”
Luther was van mening dat sondaars wat op aflaatbriewe staatgemaak het vir vergifnis, in so 'n mate deur die kerk mislei is, dat hulle vir ewig verlore was. Hy het die aflaatbriewe verder vergelyk met nette waarmee rykdom vir sommige mense ten koste van ander "gevang" is.
Luther het sy standpunt verder soos volg verwoord: "Dit is duidelik: Hy wat Christus nie ken nie, ken nie die God wat in lyding weggesteek is nie. Daarom kies hy goeie werke bo lyding, heerlikheid bo die kruis, mag bo swakheid, wysheid bo dwaasheid en in die algemeen goedheid bo boosheid. Hierdie is die mense wat die apostel 'vyande van die kruis van Christus' noem want hulle haat die kruis en lyding en het goeie werke en die heerlikheid van goeie werke lief."
Luther het opnuut onherroeplik vir Christus en die kruis gekies en so die geskiedenis van die kerk op 'n nuwe pad geplaas.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).