Op reis deur die era van die Reformasie, moet ons 'n oomblik vertoef by een van die tegnologiese wonders van die tyd. Dit was nie 'n slimfoon of tabletrekenaar nie, maar 'n drukpers.
Die uitvinding en ontwikkeling van die drukpers word allerweë as een van die belangrikste gebeure van die Renaissance beskou. Naas die uitvindsel van die stiebeuel en die herontdekking van buskruit het hierdie "tegnologiese wonder" 'n heel nuwe dimensie in die geskiedenis van boeke en geleerdheid daargestel.
Boeke en geskrifte wat voorheen met die hand oorgeskryf moes word, kon nou in massas gedruk en versprei word. Die Reformasie het direk daarby gebaat omdat die aanvanklike geskrifte van Luther en Melanchton die publiek binne enkele weke in gedrukte vorm kon bereik.
Hierdie standpunt is deur Luther self bevestig toe hy na oorlewering aan sy studente gesê het: "Die drukpers is God se nuutste en beste werk om die ware godsdiens deur die wêreld te help versprei."
Alhoewel die eerste gedrukte boek reeds in 868 in China die lig gesien het, was dit Johann Gutenberg wat teen 1445 in Mainz, Duitsland, baanbrekerswerk gedoen het en die eerste drukpers ontwikkel het. Sy uitvindsel het 'n geheim gebly totdat die stad in 1462 geplunder is en die drukkers verjaag is.
Met Luther se geboorte in 1483 was die drukkuns goed gevestig deur die hele Europa.
Terwyl daar met die aanvang van die Reformasie jaarliks slegs 500 boeke gepubliseer is, het drukkers daarvoor gesorg dat daar tydens die hoogbloei van die Reformasie bykans 40 000 eksemplare van die bekende werk Beneficio di Christo, wat oor die regverdigmaking deur geloof gehandel het, gedruk en verkoop is.
Die drukkuns het egter nie net die verspreiding van polemiese pamflette en geskrifte aangehelp nie. Dit was ook instrumenteel in die publikasie van vertaalde Bybels. Voordat Luther se sogenaamde Septemberbybel in 1522 verskyn het, het daar reeds 14 verskillende weergawes van die Bybel in Duits verskyn.
Luther se vertaling van die Nuwe Testament was onmiddellik 'n sukses terwyl daar in Zürich alleen voor die einde van die 16e eeu reeds 19 verskillende weergawes van die Bybel gepubliseer is. 'n Stroom sagteband-weergawes van die Nuwe Testament, preke en pamflette het deurlopend van die drukperse in Wittenberg, Genève en ander Europese stede gevloei.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).