NG Gemeente Rietfontein-Suid

Ons Gee Om

Reformasie 500 - Geld vir jou sonde ...

Goeie Dade

"Goeie dade maak nie van jou 'n goeie mens nie, maar 'n goeie mens doen goeie dade!"

Hierdie stelling van Luther is een van vele wat hom direk in stryd met die kerk gebring het. Hy het dit veral teen die verkoop van aflaatbriewe gehad. Op 24 Februarie 1517 het Luther die aflaatstelsel in 'n preek veroordeel. Volgens hom het die stelsel mense aangemoedig om sonde te doen en hulle daarvan weerhou om God regtig as 'n genadige Verlosser te leer ken.

Die aflaatstelsel was gebaseer op goeie werke wat uit vrees en pligsbesef gedoen is. Volgens die leerstellinge van die Middeleeuse Katolieke kerk het Christus, Maria en die heiliges sonder sonde geleef en gesterf. Hulle het ook 'n groot aantal goeie werke gedoen wat in die hemel bewaar is.

Omdat gewone mense aan die einde van hulle lewe meer sonde as goeie werke gehad het, moes hulle 'n boete daarvoor betaal. Hierdie betaling is gemaak deur 'n bepaalde tyd in die vagevuur deur te bring. Wanneer die tyd verstryk het, is 'n sondaar tot die hemel toegelaat.

Familie en vriende kon aflaatbriewe koop om 'n persoon se tyd in die vagevuur korter te maak. Lidmate kon ook terwyl hulle nog geleef het, aflaatbriewe koop wat dan van die goeie dade wat in die hemel bewaar word na hulle lewe as krediet oorgedra sou word.

Luther het die stelsel nie net in die prediking aangeval nie. Volgens tradisie het hy op 31 Oktober 1517 sy standpunt in 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker.

Twee sake het hom gemotiveer: Eerstens het Tetzel, 'n Dominikaanse monnik aflaatbriewe in die omgewing van Wittenberg begin verkoop. Sy bemarkingstrategie het bestaan uit 'n reusevuur wat op die dorpsplein gemaak is. Inwoners van die dorp is dan vertel dat 'n soortgelyke vuur, net veel warmer, op almal wag indien hulle nie aflaatbriewe sou koop nie.

Besigheid het gewoonlik goed verloop en die kerk het enorme bedrae geld uit die vrees van mense ingesamel. Daar is vas geglo dat wanneer 'n muntstuk in die geldkis val, 'n siel uit die vagevuur sou spring!" Die geld is vir die bou van die Basilika in Rome ingesamel waar die "bene van Petrus, Paulus en ander heiliges" in haglike omstandighede bewaar is.

Tweedens was Luther bekommerd oor die pastorale gevolge wat die verkoop van die briewe ingehou het.

Na Luther se ontmoeting met die genadige God van Romeine 1 kon hierdie bedrog nie langer voortgaan nie. Met sy 95 stellinge sou hy sy lewe op die spel plaas om dit stop te sit.

Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).

Reformasie 500 - Omdat jy glo, sal jy lewe!

Luther se Ontdekking

"Ek het met uie aangekom en met knoffel weggegaan."

Hierdie woorde van Martin Luther vertel iets van sy ontnugtering na sy besoek aan Rome. Wat veronderstel was om 'n hoogtepunt op sy geestelike reis te wees, het in 'n nagmerrie ontaard. Hy was in sy eie woorde: "soos Jesaja 'n sondaar tussen sondaars."

Teen die tyd dat hy sy doktorsgraad op 18 Oktober 1512 van dr Andreas von Karlstadt ontvang het, het Luther al die moontlikhede wat die kerk gebied het om vrede te vind, uitgeput.

Hoe meer hy daarna gestreef het om die beeld van 'n kwaai God af te skud, hoe minder het hy dit reggekry. Hy kon op geen manier van sy eie skuld ontslae raak wanneer hy oor die regverdige God nagedink het nie. Luther kon die God wat hy as kind leer ken het, vrees of selfs haat, maar liefhê nooit.

Die jong monnik sou egter in sy soeke na die regverdige God nie rus voordat hy Hom gevind het of homself oortuig het "dat so 'n God nie bestaan nie".

In die herfs van 1515 tref ons Luther by die Universiteit van Wittenberg aan waar hy klas gee oor Paulus se brief aan die Romeine. Hoe meer Luther met die teks van Romeine geworstel het, hoe meer het hy hom blindgestaar teen 'n kwaai God.

Die deurbraak kom wanneer Luther, na dae en nagte se worsteling oor Romeine 1:17 ontdek dat die "regverdigheid van God in die evangelie geopenbaar word" en dat "die regverdiges deur geloof sal leef".

Skielik het hy verstaan dat God mense uit genade vryspreek omdat hulle glo. Oor hierdie ontdekking skryf Luther: "Skielik het ek gevoel of ek weer gebore word en het ek geglo dat ek die paradys deur wyd geopende deure binnegegaan het."

Hierdie bewuswording het Luther onder meer laat sê: "'n Christen is vry van alle dinge: hy het geen goeie dade nodig om geregverdig en gered te word nie, maar hy ontvang alles in oorvloed deur geloof alleen."

Wat die kerk as instituut deur sy sakramente nie vir Luther kon doen nie, het die Woord gedoen. Christus het vir sondaars gesterf en wie in Hom glo is uit genade vrygespreek en gered. Uiteindelik het Luther 'n regverdige God gevind!

Hierdie "ontdekking" sou die gang van die geskiedenis van die kerk verander.

Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).

Reformasie 500 - ‘n Weerligstraal Verander die Geskiedenis

Martin Luther

Op reis terug deur die geskiedenis staan ons vir 'n oomblik stil in die jaar 1505. 'n Briljante jong regstudent met die naam Martin Luther is op pad van Stotternheim na Erfurt.

'n Geweldige storm dreig en wanneer 'n weerligstraal die jong Luther byna raakslaan, roep hy uit: "Red my heilige Anna en ek sal 'n monnik word!" 'n Weerligstraal was immers 'n duidelike teken van die oordeel van God – dit het enige goeie Duitser geweet.

Wanneer Luther hom op 17 Julie 1505 by die Augustynse klooster in Erfurt aanmeld "om sy siel te red", is dit die begin van 'n verhaal wat die geskiedenis van die kerk onherroeplik verander het.

Martin Luther is op 10 November 1483 in Eisleben gebore. Sy pa, Hans, was 'n mynwerker in Mansfeld. Dit het veroorsaak dat Luther as deel van die werkersklas swaar grootgeword het. Armoede en harde werk was deel van sy bestaan.

In 1497 het sy pa hom na die Domschule in Magdeburg gestuur waar Luther vir die eerste keer met 'n volledige Bybel in aanraking gekom het. Hy het later verklaar dat hierdie gebeurtenis 'n onuitwisbare indruk op hom gemaak het.

Luther het sy aanvanklike regstudie in April 1501 onder die naam Martinus Ludher von Mansfeld aan die Universiteit van Erfurt begin. Hy was 'n briljante student wat sy BA-graad in slegs twee jaar verwerf het.

Op 9 Maart 1509 het hy sy graad in Teologie ontvang en slegs drie jaar later is 'n doktorsgraad in Teologie op 18 Oktober 1512 deur die Universiteit van Wittenberg aan hom toegeken.

Hierdie akademiese prestasie was merkwaardig veral omdat Luther dit te midde van 'n ernstige innerlike worsteling behaal het. In sy eie woorde: "Ek was vir 20 jaar 'n monnik en het myself geteister met gebede, vas, wake en koue tot so ’n mate dat ek amper van die koue gesterf het. Wat anders was dit as 'n soeke na die ware God?"

Hoe meer Luther egter na die ware God gesoek het, hoe minder kon hy Hom vind. Dit het Luther laat verklaar dat hy God nie liefhet nie, maar eerder haat. Min het hy geweet dat die God na wie hy gesoek het, slegs maar 'n karikatuur was van die ware God wat Hom in Jesus Christus aan die wêreld kom bekend maak het. Hierdie lig sou aanstons vir hom deurbreek!

Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).