NG Gemeente Rietfontein-Suid

Ons Gee Om

Reformasie 500 - Calvyn: Stadsvader van Genève

Stad van God

Calvyn en die stad Genève het byna sinonieme met mekaar geword. Dit is daar waar Calvyn hom besig gehou het met 'n poging om 'n sigbaarder "Stad van God" in Europa te bou. In die proses was dit die plek waar Calvyn van sy belangrikste teologiese bydraes tot die Reformasie gemaak het, maar ook waar hy van sy donkerste oomblikke beleef het.

Nadat Calvyn in 1538 uit Genève moes vlug as gevolg van sy stryd met die Libertyne, het hy in 1540 'n dringende versoek van die stadsvaders ontvang om terug te keer. Teen sy eie wil, maar oortuig van die feit dat dit God is wat hom terugroep, het Calvyn op 4 September 1541 in Genève aangekom.

Die eerste saak waaraan Calvyn aandag gegee het, was 'n kerkorde. Die kerkorde wat Calvyn opgestel het, Ordonnances Ecclesiastiques, is op 20 November 1541 in die gemeente voorgelees en deur die kerkraad, die gemeente en die burgerlike owerheid aanvaar.

Die basiese vertrekpunt van Calvyn se kerkorde was die soewereiniteit van die kerk in geestelike sake.

Calvyn het vier ampte geïdentifiseer: ouderlinge, diakens, predikante en doktore. Elke gemeente moes 'n kerkraad hê wat verantwoordelik was om die gemeente volgens Bybelse riglyne te regeer en tug toe te pas.

Die kerkorde het dit ook duidelik gestel dat die burgerlike owerheid alles in sy vermoë moes doen om die kerk te ondersteun om haar roeping in die wêreld na te kom. In 1542 het die stadsraad van Genève die wette van die stad so verander dat dit in ooreenstemming was met Calvyn se kerkorde.

Alles was egter nie maanskyn en rose nie. Die jare 1543 tot 1553 was 'n tydperk van geweldige stryd in Genève. Een van die hoofrolspelers was die Spanjaard Michael Servetus.

Servetus het reeds in 1545 met Calvyn kontak gemaak en het gou bekend geword vir sy kritiek teen Calvyn se teologie. Nadat Calvyn 'n kopie van sy Institusie aan Servetus gestuur het, het Servetus dit, met kritiek in die kantlyne geskryf, teruggestuur.

Dit het Calvyn woedend aan Farel laat skryf dat as Servetus dit ooit sou waag om Genève te besoek, "hy hom nie sou toelaat om lewendig te vertrek nie." Hierdie woorde van Calvyn was nie 'n ydele dreigement nie. Nadat Servetus sy boek Christianismi Restitutio – Die herstel van die Christendom in 1553 gepubliseer het, het hy op pad na Italië in Genève aangedoen. Hy is gearresteer, is as ketter verhoor en het op 27 Oktober 1553 op die brandstapel gesterf.

Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).

Reformasie - Calvyn, 'n Vlugteling-Sendeling

Calvyn se lewe verander

Op ons reis terug na die Reformasie, ontmoet ons vir Calvyn op 23 Augustus 1534 in Parys. Hy stap saam met mede-Katolieke in 'n optog waarin daar vir die slagoffers van die Swart Dood gebid word.

Sy lewe sou egter binne maande 'n totale omwenteling ondergaan. Na 'n lesing van sy vriend, Nicolaas Cop, rektor van die Universiteit van Parys, oor die Saligsprekinge, moes Calvyn ook vir sy lewe vlug. Die geleerde van Parys het binne dae 'n protestantse vlugteling-sendeling geword wat die evangelie in kelders en grotte verkondig het.

Calvyn vlug na Basel, maar op pad daarheen dwing 'n militêre padblokkade hom om met 'n ompad deur Geneve te reis. Dit is daar, waar Farel, hoof van die kerk in Geneve, by Calvyn pleit om aan te bly en te help met die uitbou van die gemeente.

Die eerste vyf maande het Calvyn, sonder inkomste, geen indruk op die gemeente gemaak nie. Sy deurbraak het egter gekom tydens 'n teologiese debat waar hy groot indruk gemaak het met sy teologiese kennis. Kort daarna is hy aangestel as een van die leraars van die gemeente met die opdrag om ’n geloofsbelydenis en 'n kerkorde vir die gemeenskap op te stel.

Sy kerkorde is in Januarie 1537 deur die stadsbestuur aanvaar, maar is onmiddellik met groot weerstand deur die inwoners begroet. Dit was veral die artikel wat bepaal het dat al die lidmate in die openbaar belydenis van hulle geloof moes doen, wat groot reaksie ontlok het. Daar was ook hewige reaksie teen 'n dissiplinêre proses vir morele oortredings. Weerstand teen Calvyn en Farel het so toegeneem dat hulle verban is.

Hierdie gebeure lei Calvyn na Strassburg, waar hy op uitnodiging van Martin Bucer in 1538 met 'n bediening onder Franse vlugtelinge soos hyself begin het. Oorlewering wil dit hê dat Calvyn drie gelukkige jare in Strassburg deurgebring het. Die gemeente het hom heelhartig aanvaar, hy kon verder studeer, het aan teologiese debatte deelgeneem en het bevriend geraak met die Duitse hervormer, Melanchton.

In 1540 is Calvyn getroud met Idelette de Bure, die weduwee van Jan Stordeur, wat hom tot met haar dood in 1549 versorg het. Calvyn was nie gesond nie, en het onder andere gely aan kroniese hoofpyn, long- en maagprobleme, jig, artritis en slaaploosheid. Volgens Beza was dit slegs te danke aan Idelette se versorging dat Calvyn met sy bediening kon voortgaan.

Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).

Reformasie - "My hart offer ek aan U, Here, onmiddellik en opreg..."

Johannes Calvyn

Dit is die woorde van Johannes Calvyn, een van die bekendste kerkhervormers. Sy bydrae was enorm en sy teologie het 'n groot invloed uitgeoefen op die NG Kerk.

Calvyn is op 10 Julie 1509 in Noyon, Frankryk gebore. Sy ouers het beplan dat hy 'n loopbaan in die kerk sou volg, maar Calvyn wou regte studeer.

Hy is op twaalf na Parys waar hy aan die Collége de la Marche begin studeer het. Hy was 'n ywerige student en daar word vertel hoe hy alles wat hy daagliks nuut geleer het, saans voordat hy gaan slaap het herhaal het, net om in die oggend die vorige dag se lesings weer te herhaal.

Calvyn het sy meestersgraad in 1526 in Parys behaal en daarna sy regstudie aan die universiteit in Orléans voortgesit. Twee jaar later is hy na Bourges om onder die leiding van 'n beroemde Italianer, Andreas Alciati, verder te studeer.

Dit is hier waar Calvyn in aanraking gekom het met 'n Duitse protestant, Melchior Wolmar. Wolmar het hom aan Grieks en aan die Griekse teks van die Nuwe Testament bekendgestel – iets waarvoor in Calvyn se woorde, "ek hom nie genoeg kon bedank nie".

Hoewel ons nie weet waar en wanneer dit gebeur het nie, beskryf Calvyn sy bekering as 'n skielike gebeurtenis "soos wat met Paulus gebeur het". In sy eie woorde: "God het my hart onderwerp en nederig gemaak."

Dit het daartoe gelei dat Calvyn met die Katolieke Kerk gebreek het. Hy moes Parys verlaat en het in Basel gaan bly waar hy begin het om sy teologie te formuleer. In 1536 is die eerste uitgawe van Die Institusie van die Christelike geloof gepubliseer. Dit was 'n kort duidelike verdediging van die teologie van die Reformasie.

In 1537 is Calvyn op versoek van Guillaume Farel na Geneve om die Reformasie daar te help vestig. Daar het hy begin om 'n sigbaarder "Stad van God" in Europa te bou.

Sy lewe was egter nie net maanskyn en rose nie. Tydens sy laaste siekbed in 1564 het hy opgemerk: "Ek het hier 'n merkwaardige worstelstryd gevoer; snags is ek spottend deur 50 of 60 geweerskote voor my deur begroet. Jy kan dink hoe dit ’n arme geleerde soos ek sou verskrik."

Ten spyte van hierdie gebeure, het Calvyn se teologie die gang van die geskiedenis van die kerk onherroeplik verander.

Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).