NG Gemeente Rietfontein-Suid

Ons Gee Om

Oor die Bybel - wanneer geskryf?

Wanneer is die Bybel geskryf?

Lank voordat die skryfkuns uitgevind is (+-4de millennium v.C.), is die geskiedenis van God se volk mondelings van geslag tot geslag oorgedra deur pa's, ma's, leiers in die gemeenskap en storievertellers.

Later is die vertellings neergeskryf op kleitablette, boekrolle van dierevel (leerperkament) en papirusrolle.

Die neerskryf en oorskryf van manuskripte het vir eeue voortgegaan omdat die boekrolle met tyd vergaan het. Trouens, die Hebreƫrs was so besorg oor hulle antieke geskrifte dat hulle bekend gestaan het as "Die mense van die boek".

Die ontstaan van die boeke van die Ou Testament strek oor meer as duisend jaar. Die versameling van die boeke het in drie groepe (Wet, Profete en Geskrifte) plaasgevind tydens belangrike krisismomente in die geskiedenis van die Joodse volk.

Teen die einde van die 1ste eeu n.C. is die boeke van die Hebreeuse Ou Testament vasgestel.

In die Griekse vertaling van die Ou Testament wat aanvanklik in die vroee kerk gebruik is, was daar ook ander boeke (Apokriewe/Deuterokanonieke boeke) wat nie deel van die Protestante se Bybel is nie, maar in die Rooms-Katolieke kerk gebruik word.

Sedert die Kerkhervorming gebruik Protestante net die boeke van die Hebreeuse Ou Testament.

Bron: Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika