Lank voordat die skryfkuns uitgevind is (+-4de millennium v.C.), is die geskiedenis van God se volk mondelings van geslag tot geslag oorgedra deur pa's, ma's, leiers in die gemeenskap en storievertellers.
Later is die vertellings neergeskryf op kleitablette, boekrolle van dierevel (leerperkament) en papirusrolle.
Die neerskryf en oorskryf van manuskripte het vir eeue voortgegaan omdat die boekrolle met tyd vergaan het. Trouens, die Hebreërs was so besorg oor hulle antieke geskrifte dat hulle bekend gestaan het as "Die mense van die boek".
Die ontstaan van die boeke van die Ou Testament strek oor meer as duisend jaar. Die versameling van die boeke het in drie groepe (Wet, Profete en Geskrifte) plaasgevind tydens belangrike krisismomente in die geskiedenis van die Joodse volk.
Teen die einde van die 1ste eeu n.C. is die boeke van die Hebreeuse Ou Testament vasgestel.
In die Griekse vertaling van die Ou Testament wat aanvanklik in die vroee kerk gebruik is, was daar ook ander boeke (Apokriewe/Deuterokanonieke boeke) wat nie deel van die Protestante se Bybel is nie, maar in die Rooms-Katolieke kerk gebruik word.
Sedert die Kerkhervorming gebruik Protestante net die boeke van die Hebreeuse Ou Testament.
Bron: Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika
Die Bybel is 'n besonderse boek wat oor 'n tydperk van minstens 1200 jaar geskryf is deur 'n verskeidenheid skrywers, van skaapwagters tot konings.
Dit sluit in profete soos Moses, Daniël en Jesaja en geleerde mense soos Esra, konings soos Dawid en Salomo, en apostels van Jesus Christus soos Petrus en Paulus.
Omdat daar so baie uiteenlopende skrywers was wat met die oog op heel verskillende situasies geskryf het, "hoor" die Bybelleser die Woord van God uit verskillende perspektiewe.
Die wonder van die Bybel is egter dat die verskillende boeke steeds dieselfde boodskap en begrip van wie God is, bevat!
Die Bybel is werklik 'n ongelooflike boek want dit spreek mense van alle ouderdomme en nasionaliteite deur alle eeue aan!
Bron: Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika
Die eerste volledige bybelboek in Afrikaans was die Evangelie volgens Markus soos deur C.P. Hoogenhout vertaal.
Hierdie vertaling is nooit gepubliseer nie, maar die manuskrip is in die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika in Kaapstad beskikbaar.
Die eerste Afrikaanse vertaling (bekend as die "ou" vertaling) van die Bybel het in 1933 verskyn.
Die vertaalwerk is deur prof. J.D. du Toit (Totius), prof. E.E. van Rooyen, prof. J.D. Kestell, dr. S.P.E Boshoff, dr. H.C.M. Fourie en prof B.B. Keet behartig (sien foto).
'n Hersiene uitgawe daarvan het in 1953 verskyn sodat die "ou vertaling" ook bekendstaan as die 1933/53-vertaling.
Die nuwe vertaling van die Bybel het in 1983 verskyn en word deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gepubliseer.
Die eindredaksie van hierdie vertaling was prof. E.P. Groenewald, J.P. Oberholzer, A.H. Van Zyl, P. A. Verhoef, J.L. Helberg en W. Kempen.
Die eerste Afrikaanse Bybel vir Dowes is in 2008 deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gepubliseer.
Bron: Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika