NG Gemeente Rietfontein-Suid

Ons Gee Om

NG Kerk Verklaring teenoor Geweld en Vreemdelinghaat

Beste lidmaat

Die burgerlike samelewing, met inbegrip van geloofsgemeenskappe soos die NG Kerk, het die sosiaal-etiese verantwoordelikheid om hulle nie net te weerhou van enige vorm van haatspraak, stereotipering van enige groep en geweld teen enige persoon nie, maar ook om dit met oortuiging teen te staan.

Die NG Kerk wil haar om hierdie rede sterk uitspreek teen geweld van watter aard ook al.

Dit gaan hier oor die evangelie wat op die spel is. Die kerk spreek haar nie net uit oor geweld in die volgende twee verklarings nie, maar versoek ook optrede en diepe nadenke van haar lidmate ten opsigte van die uitdagings waarmee ons gekonfronteer word.

Verklaring 1: Die NG Kerk het die afgelope paar dae met hartseer kennis geneem van talle gevalle waar die kwesbaarste mense in ons samelewing, vroue, kinders en migrante uit buurlande, aan die uiterste vorme van geweld blootgestel is. Die vreemdelingehaat, die plundering van eiendom en die moord op immigrante in Suid-Afrika is slegs die mees onlangse voorbeelde van dreigemente teen mense wat 'n eenvoudige en universeel menslike soeke na 'n beter lewe vir hulle en hulle gesinne het en dikwels gedryf word om risiko's te waag as gevolg van desperaatheid, konflik en onderdrukking in hulle lande van herkoms.

Verklaring 2: Die NG Kerk is diep bewus van die kompleksiteit van misdaad en geweld in Suid-Afrika. Internasionaal is dit aan die toeneem en Suid-Afrika deel in hierdie tendens. In ons eie situasie vererger faktore soos armoede en werkloosheid die probleem. Begrip vir hierdie faktore beteken egter nie dat ons die omvang en intensiteit van misdaadvlakke wat ons tans sien wil regverdig nie.

Vriendelike groete

Gustav Claassen
Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk

Beide verklarings kan onder Nuut Op Die Werf (linkerkolom) afgelaai word.