Liewe lidmaat
Die NG Kerk as instelling wil nie in party-politiek betrokke raak nie. Tog kon ons oor die afgelope jare nie swyg wanneer die president en regeringslui so optree dat dit die vrede, versoening en geregtigheid van ons mense in gedrang bring nie. Die kerk het immers 'n profetiese roeping om geregtigheid na te jaag en om veral die stem te wees vir die magteloses en die wat deur beleid en sisteme buite rekening gelaat word of benadeel word.
Die NG Kerk het daarom die afgelope jare saam met die ekumeniese kerk in Suider-Afrika profeties geprotesteer teen verskeie vergrype van die regering en in die besonder teen die optrede en leierskap van die president, mnr. Jacob Zuma. Die NG Kerk is 'n baie aktiewe lid van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke wat reeds oor die laaste jare aktief en aanhoudend protesteer teen magsmisbruik en korrupsie in die regering. Die NG Kerk neem ook aktief deel aan die National Church Leaders Forum, tans onder leiding van Aartsbiskop Thabo Makgoba van die Anglikaanse Kerk. Ons het ook bande met die South African Christian Leaders Initiative (SACLI) en The Evangelical Alliance of South Africa (TEASA) met wie ons ten nouste saamwerk in ons protes teen magsmisbruik. Verder is daar die Tussen Kerklike Raad, 'n verband tussen die NG Kerk, die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Saam met al hierdie liggame het ons die afgelope jare ernstige protes aangeteken en ons profetiese stem laat hoor.
Mnr. Zuma het meestal verkies om nie met die hoofstroom kerke te praat nie. Vertoë om met hom 'n afspraak te kry, is dikwels geïgnoreer of lank uitgestel. Mnr Zuma het vroeg in sy presidentstermyn self 'n aantal kerklikes geïdentifiseer van wie hy advies sou aanvaar. Hy het egter binne 48 uur na sy afdanking van Minister Nhlanhla Nene as minister van finansies op 9 Desember 2015, 'n onderhoud met leiers van die SARK toegestaan. Hy was immers diep in die moeilikheid. Tydens die lang en indringende gesprek is groot druk op hom geplaas om sy posisie as president te heroorweeg. Hy het egter voortgegaan met sy soort leierskap en bestuur van sake. Na die bevinding van die Konstitusionele Hof oor sy aandadigheid aan die Nkandla-fiasko en die feit dat hy nie sy grondwetlike verpligtinge nagekom het nie, is daar weereens uit die genoemde kerklike kringe baie druk op hom en die regering geplaas. Die NG Kerk moderatuur het toe reeds ons stem by ander kerklike liggame gevoeg dat hy behoort te bedank.
Mnr. Zuma se verhouding met mnr. Pravin Gordhan, Minister van Finansies en sy adjunk, mnr. Mecbisi Jonas was uit die staanspoor kompleks. Verdagte pogings om Mnr. Gordhan te diskrediteer het groot reaksie in die geld- en finansiële markte ontketen. Dit het al meer duidelik geword dat Mnr. Zuma se leierskap en aanslag die land baie geld en werksgeleenthede kos. Die Ministerie van Finansies en Tesourie het gelukkig in die pad gestaan van 'n groot aantal van Mnr. Zuma se planne. Toe Mnr. Jonas die beskuldiging maak dat hy op 23 Oktober 2016 deur die Gupta familie geld aangebied is om Mnr. Nene as minister van finansies te vervang, was die slagordes opgestel. Mnr.Zuma se weerstand teen samewerking met die Openbare Beskermer en die regsproses wat uit haar voorlopige bevindinge oor 'n moontlike staatskaping voortgespruit het, het die geloofwaardigheid van die regering en die leierskap van die ANC nuwe laagtepunte laat bereik.
Die kerk (ekumenies) het so gereeld as moontlik beswaar gemaak teen Mnr. Zuma se optrede. Alle vertoë het klaarblyklik op dowe ore geval. Reeds op 19 Mei 2016 het die moderatuur van die NG Kerk aan Mnr. Gordhan 'n persoonlike brief van ondersteuning vir sy standpunte en etiek gestuur. Dit het gevolg nadat hy onder geweldige druk was en gevra het vir publieke steun. Die brief het wyd byval gevind. Op 19 Oktober het Mnr. Gordhan en Mnr. Jonas die Nasionale Kerkleiers Forum in Johannesburg in sy vertroue geneem oor die druk waaronder hulleself, die Departement van Finansies en Tesourie verkeer. Sy weergawe van die werklikheid was baie sorgwekkend.
Mnr. Zuma se besluit om sy kabinet te skommel en Mnre. Gordhan en Jonas af te dank, ander ministers oor wie daar selfs deur die hof bevind is dat hulle bevoegdheid tekort skiet, te behou en ministers in portefeuljes wat diepte kennis van die spesifieke veld waarvoor hulle verantwoordelik sal wees, vereis, aan te stel, sonder dat hulle enige agtergrond van die veld het, plaas die land in ‘n geloofwaardigheids- en bestuurskrisis. Dit laat ook die staat besonder kwesbaar vir manipulasie en uitbuiting in 'n tyd waarin daar meer as net gerugte van misbruik en korrupsie is. Dit is daarom geen wonder dat Standard & Poor die land se kredietstatus afgegradeer het nie, met al die skadelike gevolge.
Die moderatuur van NG Kerk het in die laaste aantal dae sedert die kabinetskommeling, as deel van die ekumeniese kerk, weereens ernstige beswaar aangeteken teen Mnr. Zuma se optrede. Die ekumeniese liggame in SA waarby ons aansluiting vind en waaraan ons behoort, is onthuts oor Mnr. Zuma se optrede en ondersteun verantwoordelike verset teen sy leierskap. Ons het onder meer saam met SACLI 'n dringende beroep gedoen op ANC parlementslede om nou hulle leiers verantwoordbaar te hou vir die enorme skade wat ons land aangedoen is. Ons het ook saam met ander kerke 'n beroep gedoen op die regerende en opposisie partye om drasties op te tree om die geloofwaardigheid van ons land te herstel.
As moderatuur wil ons graag alle lidmate aanmoedig om alle moontlike demokratiese maatreëls saam met ander landsburgers in te span in verset teen die misbruik van mag deur die politieke leiers van ons land. Ons wil egter ook Christene oproep om hulle waardigheid te behou en veral so op te tree dat dit steeds Christus se liefde en vrede waardig sal wees. Dit is nou die tyd vir gelowiges om met ons optrede van die lewende hoop in Christus te getuig. Mag die Heilige Gees vir ons almal in hierdie tyd 'n verbeelding gee vir 'n land waarin mense versoenend en menswaardig saam leef en werk, en waar, soos Amos 5:24 sê, die reg aanrol soos watergolwe en geregtigheid soos 'n standhoudende stroom.
Ons roep ook hiermee ons lidmate op om saam met ons toegewyd en dringend vir ons land en ons leiers te bid. Mag Hy dan ons land begenadig met leiers met 'n visie wat tot almal se voordeel strek.
Vriendelike groete
Nelis Janse van Rensburg
Namens die Moderatuur van die Algemene Sinode
Nederduitse Gereformeerde Kerk