Die moderatuur het op 17 Maart 2020 oor die implikasies van die coronavirus gesels en is terdeë daarvan bewus dat elke konteks verskil, maar neem tog die vrymoedigheid om die onderstaande gedagtes met gemeentes te deel.
1. Ons wil graag die inisiatiewe van die regering ten volle ondersteun en moedig daarom gemeentes aan om die maatreëls wat die President Sondagaand aangekondig het, ernstig op te neem.
2. Die moderatuur aanvaar die terugvoer van kundiges wat meen dat die sukses wat tot dusver elders in die wêreld behaal is met die bekamping van die virus, grootliks saamgehang het met die mate waarin die samelewing gehelp het om kontak met mekaar te vermy.
3. In die lig van die moontlikheid dat die virus hoogs aansteeklik is, nog voordat enige simptome sigbaar is, steun die moderatuur die gedagte dat die vermyding van sosiale kontak nie in die eerste plek gaan oor die moontlikheid dat ek by iemand anders kan aansteek nie, maar die risiko dat ekself, onwetend, iemand anders kan aansteek.
4. Uit die voorafgaande blyk dit onafwendbaar dat gemeentes dit baie ernstig behoort te oorweeg om sover moontlik alle byeenkomste, insluitende eredienste, tot na die Paasnaweek te kanselleer. Die getal van 100 is immers nie ‘n magiese getal wat aansteeklikheid bepaal nie, maar ‘n oproep om sosiale verkeer tot die noodsaaklike te beperk.
5. Gemeentes word aangemoedig om vindingryke alternatiewe vir die erediens te ondersoek en dit op die Noordelike Sinode se Facebook-blad met mekaar te deel. Gemeentes wat nie in die posisie is om self materiaal te ontwikkel nie, kan ook met vrymoedigheid die Sinodehuis kontak vir verwysings.
6. Die moderatuur oordeel dat pastoraat in hierdie tyd van kardinale belang is. Die moderatuur het reeds verneem van die katastrofiese gevolge wat die huidige situasie vir o.a. die jagbedryf, toerisme, restaurante, landbou en klein besighede kan inhou. Waar besoeke nie moontlik is nie, kan telefoongesprekke, WhatsApp-kommunikasie en ander inisiatiewe ‘n belangrike rol speel.
7. Gemeentes behoort in hierdie tyd spesiaal bewus te wees van bejaardes en ander kwesbares. Hulle kan dalk gehelp word om aankope te doen en indien nodig kan ook reëlings oor die voorsiening van kos getref word.
8. Die moderatuur oordeel dat daar ook ‘n besondere sensitiwiteit behoort te wees vir die risiko’s waaraan mense blootgestel word wat daagliks in busse of taxis werk toe pendel. Busse het dikwels 60 of meer passasiers. Gemeentes en ander werkgewers sou dit dus kon oorweeg om werkers tuis te laat bly, sonder dat dit hulle vergoeding raak.
9. Kom ons help mekaar deur:
* eerder meer, as minder met ons lidmate te kommunikeer,
* die mediese sorg in ons omgewing nie onnodig te belas nie,
* vals inligting te besweer en nie paniek-aankope te doen nie,
* nie met vrees te leef nie, maar eerder met ontferming en verantwoordelikheid, daar te wees vir mekaar.
10. Die onsekerheid wat met die huidige situasie gepaard gaan, stel enorme uitdagings aan almal van ons en daarom wil ons in hierdie dae ook spesiaal vir mekaar bid.