Die Wêreldgesondheidsorganisasie gedenk slegs drie siektes op spesifieke dae. Een van hierdie toestande is outisme, en dit dui op die voorsiene impak wat hierdie toestand op die samelewing gaan hê. Die tweede April is outisme dag en die hele maand word wêreldwyd gebruik vir bewusmaking en inligtingverspreiding. Dit word aanvaar dat een uit elke honderd kinders gediagnoseer word om op die outistiese spektrum te val. As ons aanvaar dat hierdie syfer dieselfde is in Suid-Afrika, beteken dit dat 'n kind met outisme elke uur in ons land gebore word en dat daar huidiglik in die Vrystaat ongeveer 400 kinders per jaar gebore word met die diagnose.
Outisme is 'n toestand wat die ontwikkelende kinderbrein affekteer en probleme veroorsaak in drie areas, nl. kommunikasie, sosiale interaksie en die verbeeldingswêreld. Die algemene publiek sal dikwels eerste dink aan die karakter soos uitgebeeld deur Dustin Hoffman in Rain Man of miskien Raaiselkind van Annelie Botes. Hierdie siening verarm die werklikheid, aangesien elke kind met outisme uniek is.
Hulle het almal probleme in die areas reeds genoem, maar sal van mekaar verskil in ander. So sal die kinders wissel in vermoë, van talentvol tot kognitief gestremd, verbaal tot nie-verbaal, hipo- of hipersensitief vir die omgewing en met 'n geaardheid wat wissel van passief tot aktief.
Meeste mense weet van die verbasende vaardighede wat sommige persone op die outistiese spektrum het, soos bv. rekenkundige vaardighede, geheue vir feite of kuns- en musiektalent. Dit is steeds nie duidelik hoekom sulke besondere talent dikwels gepaardgaan met onverwagse swak punte in ander areas nie. Die waarheid is dat meeste van die kinders 'n ontwikkelingspatroon van sterk en onverwagse swak punte het.
Navorsing toon aan dat hul breinontwikkeling op 'n vroeë ouderdom versteur word a.g.v. 'n wisselwerking tussen gene en die omgewing. Dit veroorsaak dat die kommunikasiepunte tussen senuweeselle atipies ontwikkel, sodat die brein beter lokale- as langafstandkonneksies vorm. Dit bring mee dat hulle die omgewing anders ervaar en taal moeilik verstaan en ook meer geïnteresseerd is in voorwerpe as in mense.
Die kritieke sosiale interaksie tussen ouer en kind word dus versteur, wat lei tot verdere onderstimulasie en dat die kind ontsnap na 'n wêreld wat vir hom of haar voorspelbaar is. Hierdie ontsnapping manifesteer as herhalende gedrag, bv. 'n fassinasie met draaiende voorwerpe en moontlik later spesifieke belangstellings soos dinosourusse, treine of selfs die verskillende tipes kragpale. Omdat die kinders se voorkoms nie verskillend van tipiese kinders is nie, is mense dikwels onverdraagsaam teenoor hul soms vreemde optrede, iets wat soms vir ouers 'n verleentheid is.
Vroeë waarskuwingstekens van die toestand sluit in kinders wat nie op hulle naam reageer nie, stadige of atipiese taalontwikkeling, atipiese interaksie met hul portuurgroep en stereotipe bewegings. In 'n meertalige omgewing soos Suid-Afrika sal kinders soms presenteer met 'n taal wat aangeleer word van die televisie en wat verskil van die huistaal. Navorsers glo dat ons binnekort babas tussen en ses en twaalf maande reeds sal kan identifiseer deur te kyk na onder andere die kwaliteit van hul oogvolgbewegings.
Dit is van groot belang dat alle kinders met gevaartekens vroeg verwys word vir evaluasie, want vroeë ingryping kan keer dat outisme die normale ontwikkeling nog meer ontwrig. Terapeute en onderwysers wat spesialiseer in outisme-spesifieke behandeling speel hier 'n kritiese rol.
Die Internet is nog geduldiger as papier en ongelukkig wissel die kwaliteit van inligting beskikbaar vir ouers geweldig. Die gerug dat immunisasies en kwik die oorsaak is van die verhoogde voorkoms van die toestand word steeds aktief versprei. Ouers kan gerus na 'n boek soos Autism’s False Prophets deur Dr. Paul Offit gaan om nader aan die waarheid te kom oor hierdie onderwerp. Outisme Suid-Afrika en Autism Speaks het beide webwerwe met baie hulpbronne en besonderhede oor goedgekeurde diensverskaffers.
Die ongemaklike waarheid is dat ons nog nie goedgevestigde dienste vir veral jong kleuters in die Vrystaat het nie. Daar is gelukkig klasse wat ontwikkel in skole soos Lettie Fouché, Willem Postma en Pholoho. Die Vrystaat Outisme Ouervereniging het 'n privaatskool begin wat huidiglik n diens bied aan sewe leerders.
Die filosoof John Rawls het gesê dat, indien ons 'n nuwe samelewing sou beplan waar ons eie plek en talente versluier is, ons dit so sou doen om veral die kwesbares en weerloses in 'n vangnet te ondersteun. Hierdie is 'n kwessie wat ons almal raak en gaan raak en daarom behoort ons as samelewing saam te staan en te help.
Dr. D.J. Griessel - Ondervoorsitter Outisme Suid-Afrika