Vrydag, 6 September 2013 19:30, Pierneefteater
Het jy gedink jy ken Pretoria of die omgewing rondom Pretoria? Is jy lus om elke maand iets nuut te ervaar? Nuwe plekke te ontdek? Nuwe mense te ontmoet wat uiteindelik dalk 'n nuwe vriend/vriendin kan word? Is jy dalk alleen, en voel nie lus om dinge op jou eie te doen nie? Of jy dink dalk dat dit vreeslik duur is om iets nuut te ervaar?
Wel, dan is die Aksie Plus net die regte groep vir jou om by in te skakel. Jy sal verbaas wees wat dit vir jou kan doen! Dis beter as Rennies en Eno, beter as braaivleis en Chevrolet, beter as Coke! Ledegeld is slegs NUL Rand per jaar. Maar herinneringe maak die hart vol, die siel gelukkig en sit 'n nuwe huppel in jou stap.
Aksie Plus het in 1993 die lig gesien as Aksie 40+ onder die leiding van Ds. Leon Van Heerden om gemeentelede tussen die ouderdomme van 40 en 65 jaar die geleentheid te gee om saam sosiaal te verkeer en die wêreld te verken.
Sommer gou is daar egter agtergekom dat mense wat jonger en ouer is as die veronderstelde ouderdomme geniet alles net soveel wat op die spys- en roetekaart geplaas word, en is daar besluit om van die ouerdomsgrenslimiete ontslae te raak en is die naam hersien na Aksie Plus.
Om meer te wete te kom oor Aksie Plus, kontak die Kerkkantoor, alternatiewelik, hou die afkondigings dop vir die datum van die volgende bymekaarkom en onvergeetlike ervaring. Onthou, jou plek is klaar bespreek en jou stoel reggeskuif. Sien jou by die Aksie op ons volgende uitstappie!
NS: Onthou net om die familie ook saam te bring!
Met al die ouderdomme bymekaar laat dit ons toe om elke keer mekaar opnuut te ontdek, ander te leer ken en sommer heerlik saam te lag en gesels as ons een keer per maand bymekaarkom, gewoonlik op 'n Sondag na kerk, waar plekke ontdek en verken word. So is die Gautrein roete al gesien en verken, ons gaan teater en inry toe, drink tee by verskeie kwekerye en teetuine.
Daar is ook al 'n hele aantal staproetes in die natuur voltooi en verskeie geskiedkundige plekke en museums is ook al besoek. Partykeer is dit sommer net 'n gesellige piekniek waar ons onder die bome sit en lag en gesels, speletjies speel of ons gaan eet net pannekoek of hou heerlike sopaande met speletjies of kyk na die sterre. Alles geskied op so wyse dat ons ons Hemelse Vader daarin verheerlik in alles wat ons doen en ervaar.
Die hoogtepunt van elke jaar se gebeure is egter die kamp waar ons vir 'n hele naweek wegbreek om geestelik te groei en mekaar te leer ken in 'n omgewing waar almal "vreemd" is, weg van die daaglikse gewoel en gestoei en so nader aan ons Hemelse Vader te kom in die Natuur.