Verlede week is ons uitgedaag om nie ons vyande te haat nie, maar hul juis lief te hê. Lief te hê, met 'n liefde wat slegs God vir ons kan gee. Om ons vyande lief te hê, is as te ware teen die menslike natuur, maar dit is 100% in lyn met die Christelike natuur.
Saam met hierdie liefde vir die vyand kom die vraag: "hoe kry ek dit reg om my vyand lief te hê?". Alhoewel daar sekerlik talle antwoorde op hierdie vraag is, blyk dit tog of één van dié antwoorde uitstaan. Vergifnis.
Is liefde vir die vyand enigsins moontlik sonder vergifnis? Dis debatteerbaar, maar ek dink nie so nie. Ons ken almal die opdrag: "vergeef-en-vergeet". Kom ons maak dit sommer hier al duidelik dat "vergeef-en-vergeet" nie 'n Bybelse konsep is nie – dit is maar net 'n idioom waarmee ons groot geraak het.
Vergifnis is wel 'n Bybels konsep. Inteendeel, dit is Goddelik. Een van die kerkvaders het gesê dat ons nooit die beeld van God so helder vertoon, as wanneer ons 'n onreg teenoor onsself volkome vergewe nie.
Hoekom is dit belangrik dat ons ander vergewe? Daar is baie antwoorde, maar kom ons fokus vandag op twee.
...geskryf deur DJ Muller
Is dit nodig om oor hierdie onderwerp te dink? Is dit nie iets was ons al hoeveel keer gehoor het nie? Vir een of ander rede hoor ons baie dinge oor liefde vir die vyand, maar tog luister ons nie daarna nie.
Jesus vra van ons om ons vyande lief te hê. Die gehoor aan wie Mattheus skryf in Mat 5: 43 - 48 woon heel moontlik in Antiochië. Dit is sekerlik een van die "gaggaste"
In ’n 800m2 ruimte het omtrent 120 mense van verskillende gelowe en kulture gebly. Die stad was baie dig bevolk. Die hartseer is dat hierdie mense glad nie in vrede met mekaar kon saamleef nie – met ons Suid-Afrikaanse konteks as vertrekpunt, is dit eintlik maklik denkbaar.
Baie christene is ook as gevolg van gevegte tussen hierdie groepe deur die Romeine doodgemaak. Wat vra Jesus dus van hierdie christene? "Daardie Arabier wat jou so slegsê en daardie Romeinse soldaat wat verlede week jou vriend onthoof het ... wees lief vir hulle." Drasties nê?
Wat vra Jesus van jou en my in 2013?
...geskryf deur DJ Muller
Hierdie week se tema handel oor die gevolg daarvan om 'n dissipel te wees van Jesus. Jesus waarborg dat ons sal swaarkry as ons kies om Hom te volg. Wat ’n waarborg nê? Is 'n waarborg nie veronderstel om die verbruiker te beskerm nie? Absoluut korrek.
Die enigste verskil is dat dissipels van Christus nie verbruikers is nie (alhoewel baie ongelukkig so dink). Om dissipel van Christus te wees beteken juis om nie aan die ontvang-kant te staan nie, maar aan die gee-kant.
Paulus beskou homself as ’n doulos vir Christus. Doulos word deur die "fancy" Griekse woordeboeke as volg gedefinieer:
doulos (I) of being in a servile condition enslaved, performing the service of a slave; figuratively, of unquestioning obedience, in either a good or bad sense subservient, enslaved, subject (Romeine 6: 19)
Om 'n dissipel van Christus te wees, beteken dus om dienend (soos 'n slaaf) en gewend te wees – om nie aan die ontvang-kant te wees nie. Petrus skryf in sy eerste omsendbrief aan die Noordelike streek van Klein-Asië juis oor hierdie "doulos" wees en wat die implikasies daarvan is.
...geskryf deur DJ Muller
Jy het verseker al die spreekwoord gehoor wat lui; "elke huis het sy kruis".
Het jy al gehoor, wanneer jy vir iemand vra hoe dit met hulle gaan, dat hulle antwoord: "ag, ek dra maar my kruis, maar verder gaan dit goed"?
Hoor die toon waarmee daar geantwoord word. Hoor die sug wat saam met die woorde kom. Die kruis klink soos die grootste straf ooit – die swaarste las denkbaar.
Was Jesus se kruis dan ’n straf?
...geskryf deur DJ Muller