Dis tyd om nuut te dink oor die amp
In meer en meer gemeentes word ouderlinge en diakens vervang met gemeenteleiers. In die Handleiding vir die erediens is daar selfs 'n formulier vir die indiensstelling van gemeenteleiers. Kerkrade word saamgestel uit gemeenteleiers sonder ouderlinge en diakens wat beteken dat hulle geen kerkregtelike locus standi het nie.
Dit het dringend tyd geword dat daar nuut gedink word oor die amp.
Die hervormers het tydens die Reformasie nie net die liturgie en teologie van die kerk hervorm nie. Die kerkregeringstelsel is ook grondig hervorm.
Die herontdekking van die amp van die gelowige as die belangrikste amp in die kerk was krities belangrik vir die ontwikkeling van die amp binne die Gereformeerde tradisie. Dit is juis hierdie verbreding van die amp wat verder gevoer kan word omdat alle gelowiges gawes ontvang het met die oog op dienswerk in en buite die gemeente.
Calvyn se besinning en verstaan van die ampte as dienste bied 'n belangrike raamwerk waarbinne 'n nuwe verstaan van die ampte in missionale gemeentes bedink kan word. Die feit dat hy melding maak van "dienaars in die konsistorie" in die Discipline Ecclesiastique (1559, Parys) dui daarop dat hy die ampte as verskillende dienste – almal op dieselfde vlak – tot diens van die gemeente en die wêreld verstaan het.
Hy het vier ampte geïdentifiseer, naamlik leraars, ouderlinge, diakens en doktore. Laasgenoemde omdat dit deur die "noodsaaklikheid van sy eie tyd" nodig was.
In 'n wêreld van ongeletterde mense moes die kerk onderrig en daarvoor was 'n spesifieke amp nodig. Dit is hierdie siening van Calvyn wat ons help om te verstaan dat die nood van die tyd waarin die kerk leef, nuwe ampte of ander ampte moontlik maak – maar altyd met behulp van grondige interpretasie van die Bybel.
Die "noodsaaklikheid van ons eie tyd" daag ons uit tot 'n nuwe verstaan van die amp. Dit is eg gereformeerd!
Miskien help dit ons nie net om nuwe ampte vir ons tyd en konteks te ontdek nie, maar ook die bestaande ampte opnuut tot hulle reg te laat kom.
Diakens kan mos in die tyd waarin ons leef intens betrokke wees by die bestryding van armoede en die versorging van armes soos wat hulle taak in die Bybel beskryf word.
Ouderlinge kan en moet toesig hou oor wat in gemeentes gebeur en nuwe ampte – wel hulle kan die dienswerk waartoe die tyd ons uitdaag verrig.
Dan sal dit nie nodig wees om die spreekwoordelike baba met die badwater uit te gooi en van ouderlinge en diakens 'n bedreigde spesie te maak nie.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
Wittenberg 2017: 'n Ou droom herontdek
"Vandag is 'n historiese dag," het prof Jerry Pillay, vorige president van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde kerke op 5 Julie in Wittenberg, Duitsland tydens die vergadering van die liggaam gesê. Hy het verwys na die ondertekening van 'n gesamentlike ekumeniese verklaring deur Katolieke, Metodiste en Lutherane wat daarop gerig is om die 500 jaar oue geskille tussen die protestante en die Katolieke wat uit die era van die Reformasie dateer, te oorbrug.
Die belang van die ondertekening is later verder bevestig deur ds Najla Kassab van Libanon, die nuutverkose president van die Wêreldgemeenskap, toe sy gesê het: "Vandag teken ons nie net 'n gesamentlike verklaring nie – ons bou 'n kerk saam."
Die belang van die gebeure is verder onderstreep deur 'n brief van Pous Franciskus wat deur biskop Farrell voorgelees is. Hy het onder meer geskryf dat die ondertekening simbolies is van die verbintenis om as broers en susters in Christus die pad saam te loop op 'n reis van konflik na gemeenskap en van verdeeldheid na versoening."
Hierdie uitsprake maak dit duidelik dat die droom oor groter eenheid in die kerk na 500 jaar dalk weer herontdek is, want hierdie versugting na eenheid in die kerk is niks nuuts nie. In 1552 het Calvyn aan Thomas Cranmer geskryf dat "die liggaam van Christus lê en bloei" en dat hy meer as gewillig sou wees om tien oseane oor te steek om die eenheid van die kerk te probeer herstel.
Alhoewel Wittenberg 2017 dalk baie ver van ons hier aan die suidpunt van Afrika is en ons intens met belangrike sake soos werkloosheid, korrupsie en armoede worstel, moet dit ons tog herinner aan die feit dat die eenheid van die kerk onherroeplik deel van ons getuienis aan die buitewêreld is. Hierdie feit word bevestig deur die toespraak van mnr Nelson Mandela voor die Algemene Sinode van 1994. As nuutverkose president en nie-lidmaat het hy die NG Kerk uitgedaag tot versoening, tot die bekamping van armoede en tot kerkeenheid.
Wittenberg konfronteer ons met die vraag of ons soos Calvyn bereid sou wees om tien oseane oor te steek ter wille van die eenheid van die kerk? Moenie vrees nie – dis waarskynlik nie nodig nie – dalk hoef jy slegs 'n pad oor te steek of na 'n naburige woongebied te ry om kontak te maak om deel van die herontdekte droom van Wittenberg 2017 te word!
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede
En die regte kerklike leiers vind ons …
Iemand skryf onlangs dat die kerk nuwe leiers nodig het. Tye het so dramaties verander dat die "ou" manier van doen gewoon net nie meer werk nie. Daarmee het hy een van die mees kontensieuse sake in die kerklike wêreld op die tafel geplaas.
Van die heel begin af deur die vroeë kerk tot in die Middeleeue het kerklike leiers en die stryd om leierskap gedreig om die kerk lam te lê. Die rigting waarin sake beweeg het word weerspieël in 'n aanhaling van Ambrosius van Milaan wat gesê het: "Niks op hierdie aarde is meer verhewe as priesters of edeler as biskoppe nie."
Waarskynlik het leierskap in die kerk 'n laagtepunt bereik met die sogenaamde Groot Skeuring in 1381. Selfs met die beste bestuur ter wêreld kon die pousdom nie die verdeeldheid in eie geledere heel nie. Met 'n pous in Frankryk (Clemens VII) en 'n pous in Rome (Urbanus VI) het dit selfs op gewapende botsings tussen die twee kerkleiers uitgeloop.
Beide van hulle het geweier om 'n konsilie in Pisa in 1409 by te woon waarop die kardinale albei afgesit het en 'n nuwe pous, Alexander V in hulle plek gekies het. Geeneen van die ander pouse het hom egter erken nie, wat die kerk met die belaglike situasie van drie pouse gelaat het. Hierdie situasie sou tot 1417 met die Konsilie van Konstantz voortduur toe Marthinus V as enigste pous aangewys is.
Dit is daarom nie vreemd dat leierskap in die kerk een van die vernaamste redes vir die Reformasie was nie. Die rol van die pous en die gesag van die pous was een van die belangrike temas in Luther se 95 stellinge. Met die skryf van sy Kerkorde in Genève het Calvyn ook duidelik uitgespel hoe kerklike leierskap moet funksioneer.
Hoe sou die Reformasie van 500 jaar gelede ons dan help met nuwe kerklike leiers? Ons sou dit soos volg kon saamvat:
- Christus is hoof van sy Kerk. Dit is waar die hoogste gesag gesetel is.
- Hy regeer sy kerk deur sy Woord en sy Gees.
- Daarvoor gebruik Hy die ampte – mense wat deur Hom geroep en toegerus is vir die taak van leierskap in die kerk.
- Kerklike besluite word geneem in vergaderings waar die geroepenes saamkom in die naam van Jesus Christus onder leiding van sy Gees op grond van sy Woord.
Miskien het ons nodig om weer ernstig oor hierdie sake te besin. Doen ons dit, kan ons ophou soek vir nuwe leiers. Die Hoof van die kerk sal die regte leiers vir die regte tyd as 'n gawe aan sy kerk gee.
Geskryf deur Prof Johan van der Merwe (Kerkgeskiedenis-professor aan die Universiteit van Pretoria vir e-Kerkbode).
- Besonderhede