Wat is Aksie Plus
Is jy tussen 20 en 80?
Het jy gedink jy ken Pretoria of die omgewing rondom Pretoria? Is jy lus om elke maand iets nuut te ervaar? Nuwe plekke te ontdek? Nuwe mense te ontmoet wat uiteindelik dalk 'n nuwe vriend/vriendin kan word? Is jy dalk alleen, en voel nie lus om dinge op jou eie te doen nie? Of jy dink dalk dat dit vreeslik duur is om iets nuut te ervaar?
Wel, dan is die Aksie Plus net die regte groep vir jou om by in te skakel. Jy sal verbaas wees wat dit vir jou kan doen! Dis beter as Rennies en Eno, beter as braaivleis en Chevrolet, beter as Coke! Ledegeld is slegs NUL Rand per jaar. Maar herinneringe maak die hart vol, die siel gelukkig en sit 'n nuwe huppel in jou stap.
Aksie Plus het in 1993 die lig gesien as Aksie 40+ onder die leiding van Ds. Leon Van Heerden om gemeentelede tussen die ouderdomme van 40 en 65 jaar die geleentheid te gee om saam sosiaal te verkeer en die wêreld te verken.
Sommer gou is daar egter agtergekom dat mense wat jonger en ouer is as die veronderstelde ouderdomme geniet alles net soveel wat op die spys- en roetekaart geplaas word, en is daar besluit om van die ouerdomsgrenslimiete ontslae te raak en is die naam hersien na Aksie Plus.
Met al die ouderdomme bymekaar laat dit ons toe om elke keer mekaar opnuut te ontdek, ander te leer ken en sommer heerlik saam te lag en gesels as ons een keer per maand bymekaarkom, gewoonlik op 'n Sondag na kerk, waar plekke ontdek en verken word. So is die Gautrein roete al gesien en verken, ons gaan teater en inry toe, drink tee by verskeie kwekerye en teetuine.
Daar is ook al 'n hele aantal staproetes in die natuur voltooi en verskeie geskiedkundige plekke en museums is ook al besoek. Partykeer is dit sommer net 'n gesellige piekniek waar ons onder die bome sit en lag en gesels, speletjies speel of ons gaan eet net pannekoek of hou heerlike sopaande met speletjies of kyk na die sterre. Alles geskied op so wyse dat ons ons Hemelse Vader daarin verheerlik in alles wat ons doen en ervaar.
Die hoogtepunt van elke jaar se gebeure is egter die kamp waar ons vir 'n hele naweek wegbreek om geestelik te groei en mekaar te leer ken in 'n omgewing waar almal "vreemd" is, weg van die daaglikse gewoel en gestoei en so nader aan ons Hemelse Vader te kom in die Natuur.
Om meer te wete te kom oor Aksie Plus, kontak die Kerkkantoor, alternatiewelik, hou die afkondigings dop vir die datum van die volgende bymekaarkom en onvergeetlike ervaring. Onthou, jou plek is klaar bespreek en jou stoel reggeskuif. Sien jou by die Aksie op ons volgende uitstappie!
NS: Onthou net om die familie ook saam te bring!
- Besonderhede
Die ontstaan van Sending Sonder Grense
2010 was die 50ste bestaansjaar van Sending Sonder Grense wat in 1960 as Underground Evangelism begin het. Underground Evangelism het destyds Bybels in die kommunistiese lande ingesmokkel en die leiers en lidmate van die ondergrondse kerke bygestaan.
In 1992 het Underground Evangelism se naam na Mission Without Borders verander met die fokus om die armoede wat kommunisme agtergelaat het, aan te spreek. Sending Sonder Grense bedien in Albanië, Bosnië, Bulgarye, Moldawië, Oekraïene en Roemenië (vroeër kommunistiese lande).
Ons verskaf Christelike literatuur en onderrig, en voorsien terselfdertyd in die materiele behoeftes van die armes en behoeftiges. Ons is op die oomblik deur ons KRI-borgprogram betrokke by die lewens van meer as 27000 kinders in kinderhuise en by meer as 1000 gesinne deur ons Gesin-tot-Gesin-borgprogram.
- Besonderhede
Die bediening van Sending Sonder Grense
Die bediening van Sending Sonder Grense is primêr om geestelike, opvoedkundige, emosionele en materiële (G.O.E.M.) bystand te verleen en wel deur die volgende programme en projekte, naamlik:
Kinderredding Internasionaal(KRI) en Kinder Herstelhuise
Bystand aan hierdie kinders deur middel van borgskap teen R160 per maand. Borge ontvang jaarliks nuwe inligting en fotos van hùlle kind en kan briefies stuur.
Gesin-tot-Gesinprogram
Bystand aan behoeftige gesinne deur middel van borgskap @ R150pm (dis genoeg om 'n kwart van die behoeftes van 'n gesin aan te spreek).
Gemeenskapsentrums
Sending Sonder Grense versterk deur middel van vennootskappe plaaslike gemeentes in hulle uitreiking na hulpbehoewendes in hulle gemeenskap. Nie alleen materiële en emosionele sorg nie, maar ook deur middel van die Evangelie.
Kinder- en Moedersorgprojek
Sending Sonder Grense staan jong, verwagtende moeders by tydens die swangerskap tot na die geboorte. Gestremde en mishandelde kinders, straatkinders en kinders in tronke word ook bygestaan.
Gesinsorgprojek
Met hierdie projek help ons op 'n voortdurende basis gesinne wat in 'n krisis is. Hulle word ook gehelp deur projekte (Operasie Kersliefde en Operasie Winterredding) en ons mediese klinieke.
Christelike Uitreiking
Elke program en projek is 'n uitreiking in reaksie op die bevel in Mattheüs 28: 19:
- Verskaffing en verspreiding van Bybels en Christelike literatuur;
- Bybelkorrespondensiekursusse;
- Christelike Insetklasse (Sondagskool) in die kinderhuise waar ons werksaam is.
Die sending se werkswyse
Die Sending se werkswyse is om die inheemse mense van die lande te gebruik deur hulle te bemagtig sodat hulle hul eie mense met die Evangelie kan bereik. Deur dit te doen erken ons die waardigheid van die individu en help om kapasiteit tot selfversorging te ontwikkel. Ons gebruik die infrastruktuur wat oor baie jare heen gevestig is om ons bediening in hierdie lande te vergemaklik soos byvoorbeeld 'n sendingsentrum in elke land, mediese klinieke in Albanië, en sopkombuise in samewerking met plaaslike gemeentes in Bosnië, Oekraïene en Bulgarye.
Ons internasionale en geaffilieerde operasies word op 'n jaarlikse basis deur onafhanklike ouditeure geoudit. Die Suid-Afrikaanse ouditeurs is Anderson, Rochussen, Van der Bijl Ingelyfde Geoktrooieerde Rekenmeesters (SA). Ons administratiewe onkostes beloop slegs n klein persentasie van ons totale inkomste (4.33% in 2008).
- Besonderhede