Beste lidmaat
Die burgerlike samelewing, met inbegrip van geloofsgemeenskappe soos die NG Kerk, het die sosiaal-etiese verantwoordelikheid om hulle nie net te weerhou van enige vorm van haatspraak, stereotipering van enige groep en geweld teen enige persoon nie, maar ook om dit met oortuiging teen te staan.
Die NG Kerk wil haar om hierdie rede sterk uitspreek teen geweld van watter aard ook al.
Dit gaan hier oor die evangelie wat op die spel is. Die kerk spreek haar nie net uit oor geweld in die volgende twee verklarings nie, maar versoek ook optrede en diepe nadenke van haar lidmate ten opsigte van die uitdagings waarmee ons gekonfronteer word.
Verklaring 1: Die NG Kerk het die afgelope paar dae met hartseer kennis geneem van talle gevalle waar die kwesbaarste mense in ons samelewing, vroue, kinders en migrante uit buurlande, aan die uiterste vorme van geweld blootgestel is. Die vreemdelingehaat, die plundering van eiendom en die moord op immigrante in Suid-Afrika is slegs die mees onlangse voorbeelde van dreigemente teen mense wat 'n eenvoudige en universeel menslike soeke na 'n beter lewe vir hulle en hulle gesinne het en dikwels gedryf word om risiko's te waag as gevolg van desperaatheid, konflik en onderdrukking in hulle lande van herkoms.
Verklaring 2: Die NG Kerk is diep bewus van die kompleksiteit van misdaad en geweld in Suid-Afrika. Internasionaal is dit aan die toeneem en Suid-Afrika deel in hierdie tendens. In ons eie situasie vererger faktore soos armoede en werkloosheid die probleem. Begrip vir hierdie faktore beteken egter nie dat ons die omvang en intensiteit van misdaadvlakke wat ons tans sien wil regverdig nie.
Vriendelike groete
Gustav Claassen
Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk
Beide verklarings kan onder Argief afgelaai word.
- Besonderhede
NG Kerk Roep Sy Lidmate Op Om Hoop Te Bring Tydens Die Algemene Verkiesing Op 8 Mei 2019
Die Algemene verkiesing op 8 Mei 2019 - word wyd beskou as die belangrikste verkiesing sedert 1994.
Die verkiesing vind plaas teen die agtergrond van die ekonomiese gaping tussen ryk en arm wat in die huidige verswakkende ekonomiese bedeling nog verder vergroot. 'n Onvergenoegdheid met onder andere die huidige politieke leierskap op alle vlakke van regering, swak dienslewering, werkloosheid en armoede het ongekende frustrasie, aggressie en woede by veral diegene wat grootliks afhanklik is van die staat, tot gevolg. Verdoemende getuienis oor die omvang van staatskaping het ongekende teleurstelling in die integriteit van die huidige politieke bestel tot gevolg. 'n Emosionele saak soos grond en die onsekerheid oor hoe grondhervorming gaan uitspeel asook die elektrisiteitskrisis veroorsaak verdere onsekerheid. Tekenend van die onvergenoegdheid en volskaalse ontevredenheid is die toename in stakings en protesaksies gedurende die afgelope jare.
Die mededinging om kiesers dryf tans die politieke spanning in die land op die spits. Dit het 'n uiters ongesonde verkiesingsklimaat tot gevolg. Populisme en rasisme is aan die orde van die dag. Onverdraagsaamheid, intimidasie en betogings ruk op plekke hande uit, soveel so dat daar selfs binne partye faksiegevegte en politieke moorde voorkom.
Hierdie omstandighede bied egter aan die lidmate van die NG Kerk 'n besondere geleentheid om getuienis te lewer. Die kerk is gebore uit die gebeure van Christus se lyding en opstanding te midde van geweldige politieke frustrasie en onsekerheid. Die kruis en opstanding van Jesus het egter nuwe perspektiewe geopen en buitengewone hoop gebring. In die koninkryk van Christus kon ons sedertdien met ander verwagtings en waardes leef. Ons fokus is nie meer op eie belang en magsvertoon nie, maar op Christus se geregtigheid en vrede vir almal. Die evangelie bied 'n hoopgewende alternatief vir magspolitiek en selfsug. Die bydrae van christene tot ons land en wêreld is, in hierdie dae van geweld en stryd, om Christus se liefde, geregtigheid en vrede, sy diensbaarheid en selfloosheid te verkondig en te beliggaam. Verder is die sekerheid van God se teenwoordigheid 'n blywende inspirasie om Hom na te volg. Hy wil deur ons hoop bring!
Die NG Kerk is besorg oor talle mede landsburgers wat nie toegang tot skoon water, ordentlike opvoeding, goeie mediese sorg, behuising, werksgeleenthede en sekuriteit het nie. Ons glo dat goeie administrasie en bestuurspraktyke, goeie dienslewering, en morele leierskap in elke dorp en stad grootliks sal bydra tot geregtigheid en die menswaardigheid van ons land se mense. Ons bid daarom dat die nuutverkose politieke leiers hulle volle aandag hieraan sal wy en in die styl van Christus hulle naaste met 'n gees van toewyding en selfloosheid sal dien.
Ons versoek nou alle lidmate om saam te bid vir die verkiesing en die uitkoms daarvan. Gebed is immers 'n geloofsbelydenis dat bo alles, God in beheer is. Met die oog op die algemene verkiesing op 8 Mei, vra ons dat onder meer vir die volgende sake voorbidding gedoen word:
- Vir 'n vrye en regverdige verkiesingsproses sonder omkopery, manipulasie, intimidasie en geweld.
- Vir vrede tydens en na die verkiesing, ongeag die uitslag daarvan.
- Vir die offervaardigheid van verkose leiers om hulle te beywer vir geregtigheid en vrede, versoening en positiewe nasiebou, en die verligting van armoede en werkloosheid.
Vriendelike groete
Gustav Claassen
Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk
- Besonderhede
Wanneer is die Bybel geskryf?
Lank voordat die skryfkuns uitgevind is (+-4de millennium v.C.), is die geskiedenis van God se volk mondelings van geslag tot geslag oorgedra deur pa's, ma's, leiers in die gemeenskap en storievertellers.
Later is die vertellings neergeskryf op kleitablette, boekrolle van dierevel (leerperkament) en papirusrolle.
Die neerskryf en oorskryf van manuskripte het vir eeue voortgegaan omdat die boekrolle met tyd vergaan het. Trouens, die Hebreërs was so besorg oor hulle antieke geskrifte dat hulle bekend gestaan het as "Die mense van die boek".
Die ontstaan van die boeke van die Ou Testament strek oor meer as duisend jaar. Die versameling van die boeke het in drie groepe (Wet, Profete en Geskrifte) plaasgevind tydens belangrike krisismomente in die geskiedenis van die Joodse volk.
Teen die einde van die 1ste eeu n.C. is die boeke van die Hebreeuse Ou Testament vasgestel.
In die Griekse vertaling van die Ou Testament wat aanvanklik in die vroee kerk gebruik is, was daar ook ander boeke (Apokriewe/Deuterokanonieke boeke) wat nie deel van die Protestante se Bybel is nie, maar in die Rooms-Katolieke kerk gebruik word.
Sedert die Kerkhervorming gebruik Protestante net die boeke van die Hebreeuse Ou Testament.
Bron: Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika
- Besonderhede