Hantering van die Coronavirus situasie
Die moderatuur het op 17 Maart 2020 oor die implikasies van die coronavirus gesels en is terdeë daarvan bewus dat elke konteks verskil, maar neem tog die vrymoedigheid om die onderstaande gedagtes met gemeentes te deel.
1. Ons wil graag die inisiatiewe van die regering ten volle ondersteun en moedig daarom gemeentes aan om die maatreëls wat die President Sondagaand aangekondig het, ernstig op te neem.
2. Die moderatuur aanvaar die terugvoer van kundiges wat meen dat die sukses wat tot dusver elders in die wêreld behaal is met die bekamping van die virus, grootliks saamgehang het met die mate waarin die samelewing gehelp het om kontak met mekaar te vermy.
3. In die lig van die moontlikheid dat die virus hoogs aansteeklik is, nog voordat enige simptome sigbaar is, steun die moderatuur die gedagte dat die vermyding van sosiale kontak nie in die eerste plek gaan oor die moontlikheid dat ek by iemand anders kan aansteek nie, maar die risiko dat ekself, onwetend, iemand anders kan aansteek.
4. Uit die voorafgaande blyk dit onafwendbaar dat gemeentes dit baie ernstig behoort te oorweeg om sover moontlik alle byeenkomste, insluitende eredienste, tot na die Paasnaweek te kanselleer. Die getal van 100 is immers nie 'n magiese getal wat aansteeklikheid bepaal nie, maar 'n oproep om sosiale verkeer tot die noodsaaklike te beperk.
5. Gemeentes word aangemoedig om vindingryke alternatiewe vir die erediens te ondersoek en dit op die Noordelike Sinode se Facebook-blad met mekaar te deel. Gemeentes wat nie in die posisie is om self materiaal te ontwikkel nie, kan ook met vrymoedigheid die Sinodehuis kontak vir verwysings.
6. Die moderatuur oordeel dat pastoraat in hierdie tyd van kardinale belang is. Die moderatuur het reeds verneem van die katastrofiese gevolge wat die huidige situasie vir o.a. die jagbedryf, toerisme, restaurante, landbou en klein besighede kan inhou. Waar besoeke nie moontlik is nie, kan telefoongesprekke, WhatsApp-kommunikasie en ander inisiatiewe 'n belangrike rol speel.
7. Gemeentes behoort in hierdie tyd spesiaal bewus te wees van bejaardes en ander kwesbares. Hulle kan dalk gehelp word om aankope te doen en indien nodig kan ook reëlings oor die voorsiening van kos getref word.
8. Die moderatuur oordeel dat daar ook 'n besondere sensitiwiteit behoort te wees vir die risiko's waaraan mense blootgestel word wat daagliks in busse of taxis werk toe pendel. Busse het dikwels 60 of meer passasiers. Gemeentes en ander werkgewers sou dit dus kon oorweeg om werkers tuis te laat bly, sonder dat dit hulle vergoeding raak.
9. Kom ons help mekaar deur:
* eerder meer, as minder met ons lidmate te kommunikeer,
* die mediese sorg in ons omgewing nie onnodig te belas nie,
* vals inligting te besweer en nie paniek-aankope te doen nie,
* nie met vrees te leef nie, maar eerder met ontferming en verantwoordelikheid, daar te wees vir mekaar.
10. Die onsekerheid wat met die huidige situasie gepaard gaan, stel enorme uitdagings aan almal van ons en daarom wil ons in hierdie dae ook spesiaal vir mekaar bid.
- Besonderhede
Die Camino in Spanje
Leon en Monique Tait (wie se seun, Stephan, outisties is) en drie vriende vertrek na Spanje op 19 September 2019 om die Camino te stap ten einde bewustheid van outisme te bevorder.
Lethabo le Khutso hou u graag op hoogte van die reisgeselskap se ervaringe en vordering. Volg ons op Facebook.
- Besonderhede
Beste lidmaat
Die burgerlike samelewing, met inbegrip van geloofsgemeenskappe soos die NG Kerk, het die sosiaal-etiese verantwoordelikheid om hulle nie net te weerhou van enige vorm van haatspraak, stereotipering van enige groep en geweld teen enige persoon nie, maar ook om dit met oortuiging teen te staan.
Die NG Kerk wil haar om hierdie rede sterk uitspreek teen geweld van watter aard ook al.
Dit gaan hier oor die evangelie wat op die spel is. Die kerk spreek haar nie net uit oor geweld in die volgende twee verklarings nie, maar versoek ook optrede en diepe nadenke van haar lidmate ten opsigte van die uitdagings waarmee ons gekonfronteer word.
Verklaring 1: Die NG Kerk het die afgelope paar dae met hartseer kennis geneem van talle gevalle waar die kwesbaarste mense in ons samelewing, vroue, kinders en migrante uit buurlande, aan die uiterste vorme van geweld blootgestel is. Die vreemdelingehaat, die plundering van eiendom en die moord op immigrante in Suid-Afrika is slegs die mees onlangse voorbeelde van dreigemente teen mense wat 'n eenvoudige en universeel menslike soeke na 'n beter lewe vir hulle en hulle gesinne het en dikwels gedryf word om risiko's te waag as gevolg van desperaatheid, konflik en onderdrukking in hulle lande van herkoms.
Verklaring 2: Die NG Kerk is diep bewus van die kompleksiteit van misdaad en geweld in Suid-Afrika. Internasionaal is dit aan die toeneem en Suid-Afrika deel in hierdie tendens. In ons eie situasie vererger faktore soos armoede en werkloosheid die probleem. Begrip vir hierdie faktore beteken egter nie dat ons die omvang en intensiteit van misdaadvlakke wat ons tans sien wil regverdig nie.
Vriendelike groete
Gustav Claassen
Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk
Beide verklarings kan onder Argief afgelaai word.
- Besonderhede